Daar is al 13 episodes van RHOPTA ook verby sonder dat ek een gekyk het. Die besprekings op facebook en lisametdierooihare se opsommings was vir my genoeg vermaak.
Sien ek toe hierdie week dat daar n seisoen in onse Qheberga aka PE se Baai ook gemaak gaan word. Daar is bewerings van ernstige catfights en blompotte wat gegooi word!
Hier gaan my verbeelding op hol en ek begin dink… wat daarvan as hulle hier op ons dorpie sou kom soek na The Real Makoti’s of Kaladokwe.
Imagine… Die D-R-A-M-A. Wie sal die powerpuff girls wees wat deelneem? Onthou die term “housewifes” word baie losweg hier gebruik. Dit verwys na byna enigiemand wat make up dra en in n huis bly.
In RHOPTA en die nuwe reeks in PE is dit prominente vroue in die samelewing wat hulle eie besighede het wat deelneem. Hulle gaan na boetieks en salonne toe en koop op Pappa se aandrang horlosies wat R360 000 kos. Hulle ry met sportmotors en jaag teen mekaar resies vir pret en maak geld bymekaar vir minderbevoorregdes. In een episode het hulle gaan ontspan in Zanzibar.
Ons sal 6 dames nodig hê met lang naels, hoë ambisies, vinnige karre en nog vinniger humeure. Twee moet baie bitsig wees, een met n borsmaat groter as haar IK, een sagte Suzy wat heeltyd probeer dat almal in vrede moet lewe. Een moet n inmengerige bitchy man hê.
Hulle moet kan tee en cocktails drink, op spykerhakkies loop en inkopies doen vir die eerste span. Ek weet nie lekker van die Zanzibar storie nie, dalk kan hulle sommer Gariepdam of Kwaggapark toe gaan.
Wie sal ons 6 wees? Ek kontak solank vir Rian van Heerden. Dalk kan ek n geldjie verdien…