1 Julie 2016 is my ma oorlede na n vyf jaar lange stryd met kanker op n jong ouderdom van 57.
So paar jaar voor haar is haar gewese skoonsuster en boesemvriendin oorlede. ‘n Rukkie gelede noem tannie Thelma se dogter hulle grappig “Thelma & Louise” en ek dink terug aan die twee…
Toe ek so in standerd 6 was verloor my stiefpa sy werk. My ma was nie n vrou sonder planne nie en sy skraap geld bymekaar, sy en tannie Thelma vat die pad vir n dag lank in die geel pulsar karretjie en kom huis toe
vol giggels en n bultende pers sportsak.
Ons kinders, ek is die oudste van n groepie van 5 niggies en nefies, word met die dood gedreig as ons dit sou waag om net na die sak te kyk… Nevermind in die sak!
My ma en tannie Thelma hou toe in die buurte om ons partytjies soortgelyk aan “kosblik-en-sapbeker” partytjies…. Ons sou later uitvind in die berugde pers sportsak was fyne onderkleertjies en speelgoedjies vir dames…. Ons speurwerk het bestaan uit een watby die venster staan om te kyk wanneer die grootmense huis toe kom en een wat in die sak koekeloer.
Die grootste bron van vermaak was toe my ma hulle vir die ander tannies (ons was nie veronderstel om tande te tel nie) vertel van hulle ondervinding op die hoofweg in Johannesburg iewers. My ma agter die stuur, tannie Thelma wat hulle inkopies bestudeer in die passasier sitplek en n trokdrywer wat langs hulle verbykom, sien wat sy bekyk en homself omtrent verloor soos hy toet en waai!
My ma het ook op haar dag mediese versekering verkoop.