Die dinge wat my ore aanhoor…. en met voorbaat verskoning aan enige mans wat hier lees.
Hierdie eerste paar dae van die maand is die besigste tyd, en dan beland ek voor by die toonbank. Wat n lekker plek, dit kan rof raak, soms vind ek dit amusant en partykeer baie leersaam.
Vanmiddag na ete kom daar so stroompie kliente op een slag in, almal vrouens en dit klink sommer soos n vyeboom vol spreeus! Vir die res van wat hier geskryf word kan ek nie krediet of verantwoordelikheid aanvaar nie.
Om een of ander rede draai die gesprek na babas en een dame laat hoor “ek het vir die kliniek gevra om my sommer drie maal die naald te gee want vir n baby sien ek nie weer kans nie. En my enjin kan nie afgesit word nie!” Jammer dolla, ek dink nie n trippel dosis depo is die antwoord nie! Die kliniek het ook nie van die voorstel gehou nie.
Uit n ander oord hoor ek “ek like nie die naald nie. Dit vat al mens se gevoelens weg. Die mansmens kan vir jou bevoel en vryf soos hy wil… as die gevoel weg is is dit weg!”
Uhm? My kop sak al laer, ek kry al hoe warmer en skryf al hoe vinniger.
“Nee man, na so drie maande kom die gevoelens alles terug” – nog n ingeligte een. Nommer twee laat waai “as ek die gevoelens soek soek ek dit nou, nie oor drie maande nie!”
Party dae kan mens net dankbaar wees vir huistoegaan tyd!