Onwillige noodsaaklikhede

16 Desember elke jaar het ons n daguitstappie PE toe. Die manne in die huis trippel dan gewoonlik al so vir n week lank opgewonde rond want die nuwe (lyk my daar is elke jaar n nuwe een) Star Wars fliek kom uit…. Dit word ge- “Imax”.

Ek gebruik die kans altyd om deur die skool se skryfbehoefte lys vir die volgende jaar te werk. Eers was dit twee lysies en na ouboet klaar is het die inkopies halfveer.

Met kleinboet wat toe ook klaar is met skool einde verlede jaar is ek skielik doelloos dwalende die oomblik toe die fliekdeure agter hulle toegaan.

Boekwinkels deurgestap (sjoe, boeke is darem duur!). Daarna vir kleinboet n paar goedjies gekoop vir die woonstelletjie. Nog steeds Imax hulle.

Kom die gedagte by my op dat die man van die huis nog laas gesê het hy kort nuwe onderklere. Bestyg ek die roltrap na bo waar die klerewinkels flink besigheid doen.

Koop eers vier “special” t-hemde vir ouboet en kleinboet. Kom voor die onderklere rak te staan en KRISIS!!!! Daar is net Jockeys met vreeslike breë rekke en dan boxer shorts. Al om-en-om die rak soek ek… Niks.

Roep die jong verkoopsman met die lang kuif en dun broekspype en nog dunner skoenpunte nader. Deesdae se jong manne word mos nie boude ge-issue nie. Is groot fris skouers en arms, dan n paar dun dun heupies en sulke lang maer beenjies en g’n niks om die agterkante van n denim vol te maak nie!

Nou kyk, my man se boude was die eerste wat ek van hom raakgesien het, niks van daai mooi persoonlikheid nonsens nie, en na 22 jaar kan daai boude in n mooi denim my nog steeds sidetrack… Soos julle hier kan sien!

Vra ek vir die jongeling ek soek onderbroeke. Dowwe kyk… O, ok hy verstaan nie afrikaans nie. Uhm underpants? Hy wys vinger na die rak. Nee boetie, die oom dra regte propperse onderbroekies met n dun rek. Na my beste engels tweedetaal verduideliking snap hy, die gesiggie verhelder en hy sê “oh, old uncle onnies”!

Hy raai toe n ander winkel aan en die neusie kreukel so effens omdat ek potensiële skroplappe-vol-gate in sy brand name shop durf soek!