Goeie dade…

Is n goeie gebaar nog n goeie gebaar as die uitvoer daarvan jou tien jaar ouer maak? En as jy geen woord, of eers n tjirpie van dank kry nie?

Ek kan mos aan geen vreemde dier – lewendig of dood – raak nie! Gril my dood!

Kom vanaand in die kombuis en hier fladder duif se kind in die vensterbank rond. Soos sulke goed werk…. is ek alkeen by die huis! Die honde gaan mal by die aanskou van die vreemdheid en die duif fladder fladder verskrik.

Soos altyd as ek n probleem teekom, ignoreer ek dit eers. Toe praat ek met die duif… “kyk net op man, die opening is by jou kop”. Niks! Toe bekruip ek hom met n vadoek…. slegte plan! Bleddie duif het sensors of flippen radar of sien my in die venster aankom.

Ek stap buitetoe om te kyk of daar nie n siel in die straat verbystap wat kan help nie. Straat is skielik Sondagmiddag-stil!

Probeer hom kalmeer met n stukkie brood… ga!!! Is n banting duif, brood word met minagting vloer toe geskop! Gluur my kraal-oog aan!

Vervang die vadoek met n handdoek… vorder n bietjie maar onderskat vir duif se kind. Eerste probeerslag sit ek met die helfte van die stertvere in my hand.

Derde poging het ek hom toegewikkel in die handdoek en buitetoe. Toe my hande oopgaan vlieg hy woerts warts die sonsondergang is, stertvere windskeef…. en die honde kyk my dikbek aan!