Lost in translation

Lost in translation…. staan ons in n supermark om koeldrank te koop. Twee jong fris afrikaanse klonge staan by die sigaret toonbank en die een vra “het julle die Car magazine?” Jy sien hoe gaan die vrou agter die toonbank in “disapproval” mode in! Die dun wenkbroue wriemel soos wurmpies en die mond tuit pure suurlemoen. Met ysblokkies wat rinkel in haar stem vra sy uit n hoogte “what kaal magazine are you looking for?” This is a family store, sir! Jong man se kakebeen slaat daai toonbank en sy gesig is n prentjie van verdwasing. Ek het lanklaas onbedaarlik gegiggel! Gelukkig kom boerseun se pel met die regte tydskrif tussen die rakke uit.

Voorsorg en voorbehoed

Die dinge wat my ore aanhoor…. en met voorbaat verskoning aan enige mans wat hier lees.

Hierdie eerste paar dae van die maand is die besigste tyd, en dan beland ek voor by die toonbank. Wat n lekker plek, dit kan rof raak, soms vind ek dit amusant en partykeer baie leersaam.

Vanmiddag na ete kom daar so stroompie kliente op een slag in, almal vrouens en dit klink sommer soos n vyeboom vol spreeus! Vir die res van wat hier geskryf word kan ek nie krediet of verantwoordelikheid aanvaar nie.

Om een of ander rede draai die gesprek na babas en een dame laat hoor “ek het vir die kliniek gevra om my sommer drie maal die naald te gee want vir n baby sien ek nie weer kans nie. En my enjin kan nie afgesit word nie!” Jammer dolla, ek dink nie n trippel dosis depo is die antwoord nie! Die kliniek het ook nie van die voorstel gehou nie.

Uit n ander oord hoor ek “ek like nie die naald nie. Dit vat al mens se gevoelens weg. Die mansmens kan vir jou bevoel en vryf soos hy wil… as die gevoel weg is is dit weg!”

Uhm? My kop sak al laer, ek kry al hoe warmer en skryf al hoe vinniger.

“Nee man, na so drie maande kom die gevoelens alles terug” – nog n ingeligte een. Nommer twee laat waai “as ek die gevoelens soek soek ek dit nou, nie oor drie maande nie!”

Party dae kan mens net dankbaar wees vir huistoegaan tyd!

Groot sondes en kleintjes

Vanoggend werk ek in die kantoor en dis maandeinde vol…. Almal tjirp en gesels en die tannie lag en groet. Klink soos n bazaar! Dis die plek waar ek die meeste wysheid bekom… Op n stadium loop die gesprek in die rigting van drank en skielik is kerk en nagmaal ook in die geroesemoes. Vra die een oom of hulle al opgelet het dat die dominee se nagmaal beker is groter as die gemeente s’n! Laat hoor n tannie uit n hoekie “ek verstaan dit glad nie, ek het baie meer sondes as hy! Ek is al oor die 60 en ek rook en drink, en ek vry nog!”

Onwillige noodsaaklikhede

16 Desember elke jaar het ons n daguitstappie PE toe. Die manne in die huis trippel dan gewoonlik al so vir n week lank opgewonde rond want die nuwe (lyk my daar is elke jaar n nuwe een) Star Wars fliek kom uit…. Dit word ge- “Imax”.

Ek gebruik die kans altyd om deur die skool se skryfbehoefte lys vir die volgende jaar te werk. Eers was dit twee lysies en na ouboet klaar is het die inkopies halfveer.

Met kleinboet wat toe ook klaar is met skool einde verlede jaar is ek skielik doelloos dwalende die oomblik toe die fliekdeure agter hulle toegaan.

Boekwinkels deurgestap (sjoe, boeke is darem duur!). Daarna vir kleinboet n paar goedjies gekoop vir die woonstelletjie. Nog steeds Imax hulle.

Kom die gedagte by my op dat die man van die huis nog laas gesê het hy kort nuwe onderklere. Bestyg ek die roltrap na bo waar die klerewinkels flink besigheid doen.

Koop eers vier “special” t-hemde vir ouboet en kleinboet. Kom voor die onderklere rak te staan en KRISIS!!!! Daar is net Jockeys met vreeslike breë rekke en dan boxer shorts. Al om-en-om die rak soek ek… Niks.

Roep die jong verkoopsman met die lang kuif en dun broekspype en nog dunner skoenpunte nader. Deesdae se jong manne word mos nie boude ge-issue nie. Is groot fris skouers en arms, dan n paar dun dun heupies en sulke lang maer beenjies en g’n niks om die agterkante van n denim vol te maak nie!

Nou kyk, my man se boude was die eerste wat ek van hom raakgesien het, niks van daai mooi persoonlikheid nonsens nie, en na 22 jaar kan daai boude in n mooi denim my nog steeds sidetrack… Soos julle hier kan sien!

Vra ek vir die jongeling ek soek onderbroeke. Dowwe kyk… O, ok hy verstaan nie afrikaans nie. Uhm underpants? Hy wys vinger na die rak. Nee boetie, die oom dra regte propperse onderbroekies met n dun rek. Na my beste engels tweedetaal verduideliking snap hy, die gesiggie verhelder en hy sê “oh, old uncle onnies”!

Hy raai toe n ander winkel aan en die neusie kreukel so effens omdat ek potensiële skroplappe-vol-gate in sy brand name shop durf soek!

Goeie dade…

Is n goeie gebaar nog n goeie gebaar as die uitvoer daarvan jou tien jaar ouer maak? En as jy geen woord, of eers n tjirpie van dank kry nie?

Ek kan mos aan geen vreemde dier – lewendig of dood – raak nie! Gril my dood!

Kom vanaand in die kombuis en hier fladder duif se kind in die vensterbank rond. Soos sulke goed werk…. is ek alkeen by die huis! Die honde gaan mal by die aanskou van die vreemdheid en die duif fladder fladder verskrik.

Soos altyd as ek n probleem teekom, ignoreer ek dit eers. Toe praat ek met die duif… “kyk net op man, die opening is by jou kop”. Niks! Toe bekruip ek hom met n vadoek…. slegte plan! Bleddie duif het sensors of flippen radar of sien my in die venster aankom.

Ek stap buitetoe om te kyk of daar nie n siel in die straat verbystap wat kan help nie. Straat is skielik Sondagmiddag-stil!

Probeer hom kalmeer met n stukkie brood… ga!!! Is n banting duif, brood word met minagting vloer toe geskop! Gluur my kraal-oog aan!

Vervang die vadoek met n handdoek… vorder n bietjie maar onderskat vir duif se kind. Eerste probeerslag sit ek met die helfte van die stertvere in my hand.

Derde poging het ek hom toegewikkel in die handdoek en buitetoe. Toe my hande oopgaan vlieg hy woerts warts die sonsondergang is, stertvere windskeef…. en die honde kyk my dikbek aan!

Fietsryers

Fietsryers…… kan soos volg opgedeel word –

die “Pro’s” – hulle is die manne wat ken van. Die regte toerusting en ‘n plan vir elke pap wiel. Hulle ken van “pace” en “slip ry” en daai. Jy ken hulle sommer so aan hulle special skoene en weerkaatsende fietsrybroekies. Hulle horlosies kan in ‘n cardio unit diens doen want hy monitor ALLES. Hierdie is ‘n ernstige saak. Opdraende is waar die ouens se “skill” inkom.

Die “hobbyists” – dis diegene wat redelike oraait fietse het en dit doen vir die lekker en nie heeltemal so kompeterend is nie. Alhoewel dit nogal belangrik is om ‘n goeie average te handhaaf. Hulle droom van horlosies wat alles kan monitor. Hulle ry in groepe en skerts en lag. Opdraende is oraait en hulle voel “chuffed” as hulle die bopunt van die opdraend haal sonder om te blaas.

Dan kom ons by diegene wat lyk soos die oom wat ek vanoggend op pad werk toe raakgeloop het…. (terloops ek val in die oom se groep). Die persone ry in enigiets wat los en gemaklik sit. Rat-verhoudings beteken niks. Hulle droom van horlosies wat tyd wen sodat die uur se oefening vinniger verby gaan. Jy kan hierdie groepie veral op die opdraend herken… Die kop is laag gesak en die skouers hang – dit BEUR teen die opdraend op teen slak spoed. As daar ‘n kar van voor af kom word die kop gelig en die gesig is vasgevang in ‘n “Ag moer, help my net” uitdrukking!!!

Van huppelkind na kruppelkind in 0.5

Ons het dit mos almal gedoen toe ons kinders was, julle weet… Gehuppel!!!
Die kniee so hoog opgetel en GEHUPPEL… So n rukkie gelede stap ons een middag oor die straat en manlief doen so ‘n deftige sprongetjie en kap die hakke teen mekaar soos die outjies in die cartoons maak.

Ha, bestluit ek – ek kan dit dalk nie doen nie maar ek kan HUPPEL… toe ons die pad weer oorsteek besluit ek ook hier by die witstreep om my kordaatstuk uit te voer en ek huppel… die tweede slag toe die linkervoet grond tref toe VOEL, HOOR en BELEEF ek dit!!! Klink dit soos ‘n bak Rice Crispies met koue melk… SNAP… CRACKLE… POP!!!! Ek het maar hink-hink en skaam-skaam die laaste entjie kar toe gesluip!

Hopeloos…

In ons huis is sleutels soek n olimpiese sport….

Een Maandag oggend is die seuns al elkeen in n rigting toe ons begin bakkie sleutels soek. Ons is amper laat en met n huff en n puff soek ons op elke moontlike plek. Die bakkie is vrydagaand onder die afdak getrek so die sleutels kan nou al enige plek wees….

Om n lang storie kort te maak… Met die gesoek saam probeer ek dink waar ek die sleutels laas gesien het. En ek onthou dat ek dit gehad het omdat die hek se motor probleme gegee het. Net daarna het ek saam met Sas gery so die moontlikheid bestaan dat ek die sleutels in sy kar vergeet het. Dit is toe ook so. Die keer was dit nie die kinders se skuld nie.

Met die wegry by die huis sê ek vir Jaco “toe, raas nou soos wat jy met die kinders sou raas!”. Hy het my sooo gekyk en laat hoor “nee wat, ek het lankal besluit om jou net te aanvaar. Ek raas met die kinders want ek het nog hoop vir hulle!”

Welkom in my gedagtewêreld

Hierdie blog is regtig long overdue… Een van daardie goed wat mens wil doen, nie weet waar om te begin nie en dan eers weer in n hoekie gooi en los vir n ruk.

Woorde is vir my kragtig. Iets wat jy kan gebruik of misbruik. Jy kan bou of breek, troos of kwes.

Die grootste invloed van my kinderjare was nie die onderwysers wat my deur matriek gehelp het nie maar die sub A juffrou op Noupoort wat my leer lees het. Ek dink selfs voor ek regtig kon lees het ek na woorde gekyk en net my eie stories opgemaak. Om oor iets te skryf moet ek dit beleef en oordink. Ek kan nie net n storie opmaak uit n tema nie.

Alles wat ek skryf het ek beleef. Dis my opinie, ervarings en gevoelens.

So, enjoy the ride, hou jou arms binne die waentjie en moet asseblief nie die diere voer nie…. Ek is verantwoordelik vir wat ek skryf, ek kan nie pa staan vir wat jy verstaan nie. Meeste hiervan is nie bedoel om ernstig opgeneem te word nie. Indien ek n rare ernstige oomblik beleef, wees verseker dit sal oorwaai!