Toe ek n kind was was kerke en biblioteke verhewe plekke waar ek op my tone geloop en saggies asem gehaal het.
Kerkbanke het fyn gekraak en gesangboekies se bladsye het saggies geritsel, alles was gedemp eerbiedig.
Die Sondae wanneer daar nagmaal bedien is was dit asof daar nog n stiller en waardiger stemming in die gebou gehang het.
Ek het grootoog gekyk wat die grootmense gedoen het. Die silwer beker en broodblokkies was nie binne kinderbereik nie. Ek het nooit eers gedroom dat dit gewone brood was wat so gesny was nie.
Fast forward my kinderlewe deur tot waar ons nou self kinders het wat al bietjie groter is, die kerk dinge heel anders benader en nagmaal met klein glasies en n familiebroodjie bedien word en ons seuns klein klein al saam met ons mag nagmaal gebruik.
Wanneer dit die Sondag nagmaal is het Sas en Tiaan om die beurt langs Jaco gesit en het hy verduidelik en dan gevra oor die betekenis van nagmaal. Die twee het altyd heel goed verduidelik en hulle tonge het dalk net n bietjie gestruikel oor die woord sakrament.
Dit bly spesiaal dat die hoof van die huis die familie broodjie deel en met die bank langs aangee vir ons spannetjie. Dit gee n gevoel van saamgebondenheid, n hegtheid van ons gesinskringetjie so saam in die kerk.
Vanaand, met die vreemdheid van lockdown is daar geen nagmaal by die kerk nie, geen byeenkoms vir die begin van die paasnaweek nie. Niks aan die laaste paar weke voel gewoon of normaal nie. Dit wat elke jaar se normaal was is net anders…. Maar nie afwesig nie.
Ons kyk Annatha se boodskap en gebruik nagmaal as n groepie van 3 in ons eie sitkamer. Toe ek klein was sou dit sekerlik vir my onwettig gevoel het. Om iets so verhewe in n doodgewone omgewing te doen sou ondenkbaar gewees het.
Maar… Vanaand pak ons tuisgebakte stukkies broodbolletjies en blink kelkies op n silwer bordjie met n mooi lappie en kerse. Die boodskap en die atmosfeer wil my soos kleintyd weer laat liggies trap en saggies asemhaal. Eerbied en verwondering.
