Hierdie corona/covid 19 maak almal op verskillende vlakke bang. Die met geld bekommer hulle oor hulle geld, die sonder geld bekommer hulle oor hulle gebrek aan geld, die met swak gesondheid bekommer hulle oor gesondheid.
Party hoor die volle gevaar, is ingelig en berei hulle dienooreenkomstig voor. Ander het helfte van die storie gehoor en is paniekerig. Daar is diegene wat voel dat Gods water maar moet loop waar dit loop en dat almal n 50/50 kans het.
Daar is nog n groepie… En dit is met die groepie met wie ek die meeste simpatie het. Die ouma met die pruimplooi gesiggie wat, terwyl sy haar doodsboekie se geld uit die geknoopte sakdoek in die duisternis van haar boesem uitdiep, vir ons vertel dat haar kind nie die jaar van Knysna af kan kom vir die Easter nie. Want sien tussen hier en Knysna is n “goriela” wat die pad blok en die kind kan nie daar verby nie. Dan is daar ander wat praat van die Corolla siekte. Die een oom reken ons moet net almal anti freeze drink. Hier by ons word spottenderwys na Old Brown Sherry verwys as anti freeze want dit maak jou innerlik warm in die winter.
A rose by any name….is still a rose. En die siekte bly n kaktus van formaat. Hy het vigs in die skadu kom stel. Mense koop hand sanitizer soos niemand nog ooit kondome gekoop het nie.
Iemand sê vandag die enigste rede hoekom die regering so baie aandag aan die pandemie skenk is omdat die siekte nie uitsoek nie, oud of jonk, arm of ryk, almal loop deur. Tot prins Charles het positief getoets. Ou queen Lizzie moet dink dis n kindersiekte.
Ons neem kennis van syfers, gevalle en statistieke en die ongemak groei. Twee weke gelede het die grappies en prentjies dik geloop. Nou lag niemand meer nie. Ons dink, besin en vir die eerste keer in jare is gesinne saam, dag in en dag uit. Elke donker wolkie het n randjie. Ons kan net hoop dat hierdie duur les n les is wat nie vergeet word nie en dat ons, wanneer vryheid van beweging weer binne ons greep is ons onthou dat tyd en vryheid kosbaar is… Kosbaarder as goue munte, prestasies en sukses.