Janu-worry inkopies

Dis mos nou daardie laaste week van die eerste maand van die nuwe jaar – alom bekend as 1 – 97 Januarie. Vrydagoggend merk ek op dat my roll on sy einde bereik en maak n gedagte-nota om te gaan koop. Hierdie tipe nota het die manier om te verdwyn.

Gistermiddag beland ons in Spar, met my gedagtenotas en n leë waterbottel. Jaco gee die waterbottel in ons beweeg deur die winkel om die goedjies op ons lysies bymekaar te kry.Die roll-on nota is nog in die lysie – soos n stadige rekenaar wat van tyd tot tyd eers buffer. Ek staan en kyk tussen die koeldranke vir n sugarfree enigiets wat koud is toe hier neffens my twee gesiggies verskyn. Een van die makkers vermis n ogie. “Gaan jy vir my brood koop?” vra die een met n growwe stemmetjie en die gesiggie op n plooi getrek. Ek skat hom so 10 jaar oud. Cheeky verby en my hart smelt.

Met n (hopelik) kwaai stem vra ek “en hoe sê mens?” “Asseblief tannie” koor die twee saam. Ek sê hulle kan solank gaan wag, ek sal kyk wat ek kan doen. So met die omdraai en wegstap roep die een oor sy skouer “en polony!” Ek begin werk aan hierdie nuwe inkopielysie en ons gaan betaal. Terug by die huis begin ek met aandete en met die omdraaislag soek ek die kan water…. die staan geduldig en wag op Spar se toonbank. Jaco is maar gedwee terug Spar toe.

Vanoggend maak ek reg vir kerk en word gekonfronteer met n oop spasie waar my roll on botteltjie gewoonlik staan. Op die hoekie staan n ander botteltjie – Tiaan het huis opgepas en sy een botteltjie agtergelos. Nood is nood en niemand gaan mos weet nie, dit word 40 grade en ek wil net nie sweet en benoud ruik nie. Uitklimslag by die kerk en toe ek my arms oplig weet ek skielik nie of ek moet grassny, n kar se olie aftap of n boerboel broekie wil gaan koop nie…

Unbox & Reveal

So paar jaar gelede (toe tiekie-tok nog n kleuter was en facebook koning gekraai het) het al wat leef en beef en n opinie wou lug mos n videotjie in die kar gemaak en soos n dronk tor in die selfoon se kamera gestaar vir 5 sekondes en dan enige plek behalwe vir die selfoon gekyk. Dan moes ons in neusgate en oorhare vaskyk.

Daardie era is verby… almal het nou sulke mikrofoontjies wat lyk soos n stokkielekker wat op n salonvloer geval het en vasknip aan jou hemp. Daar is apps met filters wat jou opglam dan lyk jy soos n nuusleser op die tv… die betaalkanaal, hare en make up uit die boeke.

Nou sien ek die nuwerige manier is om alles te “unbox” en “reveal” – van sportsokkkies tot die nuwe baba se geslag.

Nou soos die gesegde gaan – eerder dood as uit die mode! Ek het nou nog nie veel rondgespeel met die dinge van die klas van Shein en Temu nie. Al wat ek toe nou in die hande kon kry om te “unbox” was my apteekpakkie van gister! Moenie waag om julle se oge te rol of neus op te trek nie. Die was n kwaliteit pakkie, of moet wees want dit was nie goedkoop nie, glo my!

Die ding van die unbox wat my nogal verbaas is dat uit een hoek is die item so groot soos n oorstokkie en die volgende oomblik… boom!!… uit n ander oogpunt vergelyk dit skielik met n tuinhark! Amazing!

Ek kon nie n videotjie.maak van my apteekpakkie unbox/reveal episode nie want ek ken nog nie filters nie en ek was in my pajamas en mens moet die platiek foelie afhaal en dan met jou naels teen die boksie tik… en ek het nie lang naels nie. Ek het julle maar bederf met n foto.

Ek vra namens n vriend – verkoop Temu of Shein dalk pille? Hierdie chronics en vitamines is n duur uitstappie. Ek is bereid om n brand ambassador vir bloeddruk pille te word.

To eat… or not to eat

Calorie defecit…. carbs… macros… nutrients… meal prep… mealplan… hydrate… lelike woorde!

Eet jou proteine voor jou stysel… sny stysel uit… sny suiker uit… carnivore diet… vegan diet… chia seeds = ancient superfood… so gaan dit aan en aan, die gedagtes, raad en idees hardloop soos n hamster op n wieletjie, om-en-om-en-om!

Die mense spuit diabetes spuite om maer te word en die diabete kan nie hulle medikasie in die hande kry nie.

Ek is nou n week lank lid van die tiekie-tok samelewing en daar is vir jou eksperts op eksperts, daar is selfs eksperts wat vir jou gaan kan sê wie die beste ekspert is!

En dan is dit nou Desember hier buite, almal wil see toe, strand toe, roomys eet!

Ek bekyk en beluister alles en diep binne my wens ek net vir n itsy bitsy denim shortie en n dubbelporsie chocolate koek!

Klein bietjie wyn…

Hierdie winter is vir my besonder koud! Oggend temperature van sommer -4. Dis asof die winter aspris is.

My wyse man gaan koop vir ons n bottel soeterige wyn. Jerepico… Dit proe kerklik – soos nagmaalwyn en so nou en dan in die aande teug ons bietjie bietjie daaraan. Koud is dit koud en na week 2 sien ons die bottel se bodem.

Ek is n self erkende wyn amateur. Ek is nogal geheg aan n lekker glas gin en as ek moet wyn drink moet dit n soeterige smaak hê.

Droë wyn proe soos stof en laat my kiewe skeef trek. Volgens die mense wat die bottel etikette maak smaak alles na bessies, sjokolade en vanilla.

Ek gaan dorp toe en besluit om die leë bottel te vervang. Ek stap die winkel in en na twee treë begin ek frons. Die rakke is geskuif en ek kry nie wat ek soek nie.

Die hulpvaardige verkoopsdame wys my in die rigting van n boks met 2 bottels… en mens kry n gratis (baie mooi) wynglas. Wie is ek nou op my neus op te trek vir n gratis glas.

Ek vat die boks en nog n bottel wat sy aanbeveel. Heel in my noppies gaan ek huis toe met my 3 bottels en n gratis glas.

By die huis aangekom bekyk ons die bottels… Shiraz, Pinotage en nog n bottel sonder n titel. Geen een daarvan soet wyn nie! Met my laaste bietjie hoop maak ek elke bottel oop en ruik daaraan… een ruik soos stof, een ruik soos n kopseer wat plek soek om uit te broei en een ruik sommer na sadness!

My liewe man weet meer van wyn as ek en vertel vir my dat een van die soorte wyn gemaak word van druiwe wat “swaar” gekry het… droogte en ongunstige toestande.

Goeie mens wat ek is besluit ek om die bottel eerste te red. Hoe gouer die bottel leeg is hoe gouer kan die voggies ophou suffer soos ant Stienie van Agter elke man. Die enigste probleem is dat die swaarkry oordraagbaar is. Sodra mens te veel daarvan inhet voel jou ooglede en ledemate baie swaar.

n Bitter pil om te sluk

Ek is oortuig daarvan dat die een wat die gesegde “Dis n bitter pil om te sluk” uitgedink het op Prednizone was.

Na elke stropie, pilletjie en doepa wat ek self kon uitdink vir my 100-dae hoes en snuffels is ek einde ten laaste gister dokter toe.

Die man met die masjien neem fotos van alle kante van my longe, klink hy werk vir Police File, dis net kliek-kliek-kliek.

Dokter kyk die prentjies, loer in my keelgat af en luister vir dit wat hy nie op die mugshots kan sien nie. Daar is geen bromkaatjies nie, niks. Dalk net die laaste stukkies van n kiem wat rondkuier in my binneste.

Enigeen wat my ken sal weet ek stap rondom n berg om kortisoon te vermy maar die keer is dit nou my lot, saam met n asmapompie.

Vanoggend moet ek die eerste van die ongewilde wit pilletjies drink en ek maak gereed. Die is mos nie n pilletjie wat jy net sluk nie. Jy het omtrent n stroom water nodig. Nie omdat hulle moeilik afgaan nie, die goed is bitterder as gal. Ek het sover gegaan as om n marmelade toastie voor die tyd te eet as offer aan my ingewande vir wat gaan volg.

Ek probeer die pilletjies in my mond gooi en n skoot water so vinnig moontlik agterna met die gedagte dat my tong dalk kontak met die pilletjies kan misloop.

Ek het in my jong dae nie genoeg geoefen met shooters nie want my reaksie is te stadig. Mensig, my oë traan en my neus loop na die spul maar dis in. Nou moet ons maar wag en kyk of die beloning soete stilte en n salige nagrus gaan wees.

I was never ready for this…

Ek ken iemand wat altyd sê “I was never ready for that” wanneer iets gebeur wat swaar/snaaks is.

Ek het al geskryf oor een van my hart-se-punte, Genade (Charlie).

Saterdagoggend nou twee weke gelede stap ek net by die werk in toe my foon lui. Dit is tannie Margaret (Charlie se ouma). Sy soek dringend n ambulans by hulle op Visrivier. Genade is van die vorige dag af knieserig en hulle het sedert die nag probeer deurkom, sonder sukses.

Ek kom gelukkig vinnig deur en gee die nodige inligting. Ek bel terug en sê vir die tannie die ambulans mense gaan haar kontak. Na n ruk laat weet die tannie niemand het nog gebel nie, dit gaan slegter en hulle gaan maar met privaat vervoer die stuk pad inkom dorp toe.

Dis n redelike deurmekaar oggend. Tussen begrafnisse het ons nog n sterfgeval by n huis en ek moet die hospitaal bel… die sekuriteitswag antwoord die foon, almal in OPD is besig met n noodgeval, ek moet weer bel. Ek kan al n eier kook van ongeduld maar wag 15 minute en bel weer. Die suster antwoord, ek doen my navraag en net voor ons aflui vra ek of die tannie van Visrivier daar uitgekom het met die siek kindjie… sy vra of ek die mense ken ek en verduidelik my band met die mense. Die suster antwoord “toe jy vroeër gebel het was ons almal met hom besig. Hy het dit nie gemaak nie”.

Daar was seker 4 keer in my amper 18 jaar by die werk wat ek gehuil het. Trane hier en daar is normaal, maar hierdie was snot-en-trane skouers ruk en snik van huil.

Hierdie week het ons n kissie bestel en reëlings getref. Vandag was die begrafnis. “I was never ready for this!”

Genade, jou “dorp ma” gaan jou kuiertjies en die skaam glimlag en onnutsige attitude mis!

In sy kort lewetjie op aarde was Genade vir ons n bron van liefde en vreugde.

n Hoes en n poep…

In afrikaans het ons n sêding wanneer iemand jou afjak… “hy het op my battery gepiepie”. Nie dat die sêding eintlik sin maak nie. Wanneer laas het iemand jou battery behoorlik sopnat gepieps? Jou afgeskakel dat jou kakebeen grond tref?

Ek sukkel om van die griep/verkoue ontslae te raak. Al wat nog eintlik oorgebly het is die 100 dae hoes besigheid. Mens se keel krap en as jy weer sien hoes jy tot die trane rol en jy tamatie-rooi in die gesig is. Dis koud, ek het n trui met n rolnek aan, lekker snoesig. Elke dan en wan gee ek n hoesie. Om nie almal om my nat te hoes nie lig ek met elke hoesbui die gerieflike rolnek so oor my gesig dat net my oë uitsteek.

Ons beland in die ry by die betaalpunt. Een ry links van ons staan n ma met 3 kindertjies in haar waentjie. Die hoes vat my weer n slag… die een dogtertjie kyk my aan met n frons. Engelgesiggie met sulke strawberry blonde haartjies en n roosknop mondjie, te pragtig. Toe die hoes bedaar en ek my wange afvee en my asem probeer kry kry sy so n afkeurende trek op die gesiggie, die wenkbroue frons nog stewig, die mondjie tuit en sy spoeg behoorlik die woord uit “SIES!!!”

Nou kyk, ek weet op my ouderdom kom daar partykeer saam met die krag van die hoes n bietjie fout met die knypers en dan glip daar n ligte donderweertjie iewers suid uit. Maar ek is seker dit het nie nou gebeur nie… of het dit? Ek het niks gehoor nie…

Ek giggel, Jaco lag sommer kliphard en die kind se ma wil haar doodskaam. Sy stoot die waentjie effens vorentoe om n skans van suiglekkers en kougom tussen my en die klein snip te bewerkstellig. Vir die volgende 10 minute het ek my hoes met n ysterhand probeer inhou!

My huwelik en n pot ertjiesop

Gisteraand het ons n heerlike sop & sjerrie aand gehad wat deur ons kerk gereël is.

Man van die huis het met groot geesdrif aangebied om n pot sop te maak. Ertjiesop… baie lekker! Net toe ek van die werk af kom moet die sop by die saal afgegee word.

Die dilemma – word die sop net so in die slowcooker vervoer of gaan ons die sop oorgooi in die dieper stoompot? Na n diekant-daaikant bespreking en die in agneem van die noodsaaklike warm hou van die sop word daar besluit om die sop in die slowcooker te hou.

Na n vorige onderonsie met my linkshandige onhandigheid het die slowcooker een van sy ore verloor. Tydens daardie veldslag het die glasblad wat bo oor die gasstoof kom ook sy Moses teëgekom en in amper soveel stukkies as die name op die onlangse verkiesingsbladsye gespat… onredbaar. Ek het weke later nog oral stukkies shatterproof glas gevind wat soos diamantjies lyk.

So word ek sitgemaak aan die passasierskant van gewillige Kaspaas met die skinkbord met die slowcooker wat tot amper bo vol warm sop is. My enigste werkie is nou om seker te maak die sop bly veilig in die pot terwyl manlief die immer gewillige Kaspaas deur die slaggat besaaide pad tot by die saal navigeer. Dit klink veel eenvoudiger as wat dit is. Net by die oprit uit, die hek is nog nie eers toe nie en ons het ons eerste uitdaging. Skielik en sonder waarskuwing is dit spitsverkeer in Proteastraat en ons moet botstil wag. Ons kom in beweging en nog voor ons by die stopstraat kan uitkom moet manlief 849 klein slaggate mis.

My senuwees… die sop lyk soos hoogwater/springgety iets. Ek werk al aan die verduideliking vir wanneer die dokter vra hoe ek derde graadse brandwonde in my skoot opgedoen het en hoekom daar n mengelmoes van ertjie en wortelstukkies betrokke is.

Eerste rat en skaars regsgeswenk en die sop maak branders. Ek besluit om my bene te probeer inspan as stabiliseersers, met min sukses. Ek begin so onder my asem (wat in elk geval aan die min kant is) sjit-sjit-sjit! Maar mens mag nie oor/voor/as gevolg van kerk sop swets nie en ek doen net my bes.

Na wat soos n ewigheid voel stop ons sommer teen verkeer in voor die saal en liefie masjeer die saal binne met sy offer. Met die uitstap loop ons ons vas in nog n sopkoker egpaar op pad met hulle pot sop.

Ons deel ons lot met mekaar en ek sê ek was so bang die sop val oor my en dan moet dit afgelek word. Die tannie lag en sê dis die soort ding wat sal maak dat haar man aspris mors!

Die groot Board-West debakel van ’24

Heel onverwags is daar n werksrit PE-se-Baai toe vir gister (Saterdag). Dit gebeur byna nooit dat ons op n Saterdag moet krematorium toe nie en ek steek my hand op en bied aan om te gaan… met bymotiewe want dit beteken ek en my wederhelfte kan die dag so saam spandeer. Romanties van my, ek weet… ek probeer my bes!

Ek bespreek die rit en wat moet gebeur met liefie. Die volgende feite ter wille van agtergrond –

Ons gaan saterdagoggend baie vroeg krematorium toe moet ry.

Die familielid van die oorledene het in PE oorgeslaap en ontmoet ons by die ingang van die Boardwalk by die koffiewinkel aan die linkerkant (Vida cafe met die rooi naambord) om die askissie te ontvang.

Die familielid woon in die Kaap en ry na ons ontmoeting terug.

Ons bespreek ook ons middagete planne. Aangesien ons naby die see gaan wees wil ons graag die see sien, dus is Barney’s n opsie of die eetplekkie aan die regterkant soos mens die Boardwalk inloop want daar is lekker sitplek met n see uitsig.

Terwyl ons wag om terug te gaan krematorium toe gaan loer ons oral in by die sussies en skoonsussies in beide Uitenhage en Despatch.

Terwyl ons Uitenhage toe ry noem die wederhelf toe dat ons eintlik eers die askissie moes optel en dan van Uitenhage af kon ons sommer “so om” gery het. (Daar word so vaagweg met n krom voorvinger beduie.) Hy wonder nog of “so om” of “anderkant om” nou die beste roete sal wees. Net soos ons uit Despatch in Uitenhage se rigting ry wonder ek nogal hoekom hy die roete wat ek vir myself as “so om” identifiseer sou wou ry want daar staan tannies wat oranje vlaggies waai.

Ek bestuur byna nooit in groterige dorpe en stede nie – nie omdat ek nie kan nie maar omdat ek nie hoef nie. Ek is dus Saterdagoggend n passenger princess. Wanneer ek nie bestuur nie steur ek my glad nie aan roetes, paaie en afdraai paaie nie want dis nie my besigheid om dit op te let nie. Ek weet waarheen ek wil gaan,dis die bestuurder se probleem om my betyds en veilig daar te besorg.

Ons ry toe uit Despatch uit met n roete verby Dora Nginza hospitaal en Algo Park en swenk toe regs.

Ek is nogal heel verbaas in die feit dat daar nie n verkeerslig van n dag oud werk nie maar almal heel bedagsaam ry en die verkeer vloei… karre, busse, taxi’s en trokke maar dit gaan goed.

Regs gedraai en ons kry spoed. Ons gaan verby die bordjie wat sê “Livingstone Hospital” en verby die woonstelle aan linkerkant bo op die bult en woerts verby die afrit waar ek verwag ek ons links sou opdraai maar ek sit tjoepstil. Toe ek vir Baywest begin sien vra ek vir wederhelfte “Watter afdraai gaan jy dan vat?”.

Julle, ek dog nie man briek dood in die middel van die pad en hy kyk my aan asof ek my hare groen gekleur het… hoofletter bold vraagtekens tussen sy oë! “Hoe bedoel jy?”

Ek bedoel…. die klient wag by die Boardwalk se nuwe mall se ingang en jy is fluks op pad na enige ingang van Baywest mall!

Al wat hy uitkry is “Nou vir wat te de hel sê jy niks?” Oeps…

Op presies dieselfde oomblik besef ons dat ons hier met n misverstand van epiese proporsies te doen het… want elke merker wat noem van die Boardwalk bestaan iewers tussen die mure van Baywest ook!!!

Nadat ek nederig om verskoning gevra het vir enige andeel wat ek moontlik kon hê in die verwarring begin ek lag en vra vir hom of hy hom kan indink dat hierdie moes gebeur het as ons net 6 maande of n jaar getroud was? Dit kon n 3 dae lange oorlog ontketen het!

Skietfontein 2024

Een van die groot hoogtepunte by die karate is die jaarlikse oefensessie by oom Jannie en die tannie by Skietfontein buite Somerset Oos.

Lekkerder kan mens nie kuier nie. Ons vertel vir almal ons gaan karate toe maar eintlik gaan ons onsself blink eet aan oom Jannie se skaap-op-die-spit en mekaar gaan blou skiet met die paintball guns en iewers in die proses breek daar gewoonlik 2 oefensessies in die rivierloop uit.

Vir 13 jaar het ek as fotograaf/toeskouer/waterdraer saamgegaan. Hierdie jaar het ek n wit pakkie en tekkies aangetrek en deelgeneem. Mense!!! Ek was die laaste week op my senuwees oor die affêre want ek ken van die stap in die droeë rivier se dik sand tot by die oefenpunt en ek weet die son kan jou piets maar die keer kon ek nie laat lê en eers my boek lees of my op n klip gemaklik maak nie. Ek dra nooit maar nooit n pet/keps nie maar ek moes.

Kyk, my twee bene, Terrible en Horrible het n wil van hulle eie gehad. Ek het heerlike nuutskeppings van jare-oue katas gemaak. Ek hoop dat indien dit ooit in die amptelike silabus opgeneem word ek krediet sal kry. Saterdag se 3 ure het verby gevlieg en toe ek weer sien stap ons terug. Ek het verwag alles gaan oppak en ek gaan hinkepink teruggaan en in n fetus posisie opkrul vir die res van die aand. Soos altyd het ons ons totaal en al oorgegee aan die heerlike aandete wat die span gemaak het, tot n gebakte poeding. Magies vol, ogies toe.

Sondag oggend is ons in klein groepies opgedeel volgens belt kleur en het n instrukteur gekry. Met die ewige optimisme van die jeug en n sak vol geduld het ons sensei ons stap vir stap deur ons grading kata geneem en elke beweging oor en oor demonstreer tot ons dit regkry. As afsluiting het ons n kata heeltemal bo ons vuurmaakplek saam met die seniors gedoen… my bene het gekramp, my voete het gekramp, ek dink selfs my brein het gekramp! Maar dit was pret. Ons het gelag, ons het geleer en ons het alles om ons waardeer.

Streef na volmaakte karakter.

Wees getrou.

Volhard.

Respekteer ander.

Weerhou van geweldadige gedrag.

Ek het altyd gekyk, die jaar deelgeneem… wie weet, volgende jaar vat ek dalk aan n paintball gun! 🤣🤣 onthou net, ek skiet soos ek skop!