Eerste ervarings en unieke voorregte

Vanoggend se fb reminder wys vir my dat ek vandag amptelik 15 jaar in diens is by my huidige werk. Dit sit my op n dink trippie…

Die eerste keer wat ek die lykswa om die kantoor sien trek het nadat iemand gaan haal is. Elke sterfgeval het nog my asem so bietjie laat wegraak.

Die eerste keer wat ek saam was om iemand te gaan haal… toe ons by die huis aankom vra die familie ons moet bietjie wag, iemand is nog op pad wat graag wil afskeid neem. Toe leer ek die eerste van baie lesse… tyd maak nie saak nie. Ons sit en tee drink in die sonnetjie op die stoep terwyl ons wag. Rustig word ouma se lewe onthou en n paar herinneringe gedeel.

Sedert daardie “eerste” het ek al baie ander beleef – lykswa ritte met net myself en n oorledene in n kis, vroegoggend diep in die winter twee dorpe verder deur die Karoo, op pad kerk toe, ritte na PE se krematorium.

Nag ritte, somer en winter, om iemand by n huis, hospitaal of ouetehuis te gaan haal. Dit is altyd vreemd vir my om netjies aangetrek, hare gekam by iemand op te daag 2 uur in die oggend.

Die eerste kind wie se begrafnis ek moes hanteer. Mense se verskillende reaksies op die dood, hoe ons almal skok en hartseer verskillend hanteer.

Ek het voorregte wat ander mense nie sommer kry nie, ek het my eie ma se diens van begin tot einde gereël, dit is vir my die mooiste een nog gewees. Blomme en kerse presies soos sy daarvan gehou het. Paar maande later oupa se diens.

Ons beland binne in mense se diepste seer en mees persoonlike herinneringe. Dis n spasie waar vreemdelinge nie hoort nie. Dit maak my werk n voorreg.

Die hartseerste oomblikke. Ek vra eendag, net voor ek by die kerk weggaan, vir n tannie of daar nog iets is wat sy nodig het of wat ek kan doen. Sy sit haar hand teen die agterruit van die lykswa en vra “kan jy nie net my man vir my terug bring nie?” Ek het gehuil tot by die kantoor.

Die laaste jaar was sekerlik die moeilikste een. Ek het meer as een maal in Desember, wat n riller maand was, vir my kollege gesê “ek kan net nie meer nie”. Ek wil nie nog een dood gaan registreer van iemand wat ek ken nie, ek wil nie meer grafte koop en blomme bestel en pamflette tik nie.

Maar…more gaan ons weer die week begin met grafte koop en reëlings tref… dit bly n voorreg.

Magic in n koppie

Ek wil by die Flat Earth Society of iets aansluit. Die aarde draai nie meer reg nie!

Mense wat my ken sal weet ek drink graag koffie, ek koop koffie, dink aan koffie, droom van koffie. Een van ons honde is na koffie vernoem. Ek is nogal lief vir my koffie.

Gistermiddag is die etensuur weer te kort en ek draf by die kafee in vir ietsie om te kou.

Staan en wag vir my beurt en sien n advertensie vir koffie… cuppachino nogal. NEW…. Dan n lysie met opsies – collagen (is dit nie iets vir voller lippe of buuste nie?) Ek het nou die dag collagen water gesien en gedink mens was dalk jou unmentionables daarmee vir n tighter fit.

En… hou vas jou jou hart – MUSHROOM cuppachino. Ek lees weer om seker te maak en vra vir die meisie agter die toonbank. Ek sê “maar dan is dit mos sop!!!!” Sy lag en sê daar is mense wat sê dis nogal lekker. Dis dan seker magic(al) mushrooms. Nee wat, los maar, die gedagte alleen maak my gril.

Skete en iepiekonders… en ouderdom

Julle, ek worry mos nou oor myself. Dit n worry wat nou n tyd lank aankom. Ek het hierdie “rash” op my een been wat woer-woer speel met my, lyk soos die baster kind van iets tussen pokke en melaatsheid. Grillerige storie…. dan word dit beter, dan slegter. Een oomblik help een salf, dan weer n ander een. Die ding is astrant, hy het vir kortisoon gefluit en n lelike vinger gegooi, iets gemompel van sy ma. Ek het skaam gekry.

So karring ek nou al lank aan. Dr. Google se een voorstel is dat ek my te dik gedrink het aan vitamines. Ek vat dit rustiger op die vitamines, been word eers beter en toe besete.

Ek doen toe daai ding wat professionele mense laat oogrol, ek wys dit vir n verpleegsuster. Sy wys fotos daarvan vir die dokter. Nou hoor-hier-kyk-hier nè, die dokter is n goeie mens, eerlike mens… dalk effens te eerlik.

Hy noem iets in sy voicenote van my voete wat geswel is, moontlike bloedvloei probleme en daar is n verwysing na my gewig.

Nou ja, ons almal weet daai kan n teer punt wees. Die probleem is dat ek die dokter al lank ken. Dit is dieselfde dokter wat tydens een van my dieet pogings my vet/veldikte met n toestel gemeet het wat loodgieters en skrynwerkers gebruik om staal en pype se dikte te meet!

Ek gaan google natuurlik oplossings vir swak bloedvloei en sien n ding raak wat my pols laat bons – pressure socks. Ek weet nie wat die vervaardigers van daardie kouse se probleem is nie. Toe ek klein was het my inkleurkryt stelle altyd n kleur bevat wat ons “menskleur” genoem het. Enigeen wat ooit colleen potlode gehad het sal dadelik weet watter een ek van praat. So mooi blush pienk. Maar nee, pressure socks se kleur kan beskryf word as “kadawer” kleur. Dit is dieselfde kleur as die lyke op NCIS wat n kort rukkie in n dumpster of rivier gegooi is. En die “pressure” deel van die kouse laat sommer my brein engtevrees kry. I can’t deal.

Terwyl ek deur die kombuis venster staar en die storie bedink terwyl ek myself maak belowe dat ek van more af kaloriee tel eet ek n poedingbakkie vol van gisteraand se pasta op.

Ek moet nou al kruisbeen staan as ek hoes of nies, toe my ma dit gedoen het was dit snaaks, nou is dit nie n grappie nie, ek het multi focal bril lense waarvoor my man n nektoutjie wou kry, ek was amper in n beswyming… so, die kadawer kouse sal insult to injury wees.

Eerder dood as uit die mode

Wie besluit wat is in en wat is uit? Want laas jaar se klere is laas jaar se nuus. Tensy iemand dit weer opdiep of uitgrawe, dit optert en as retro lable. Partykeer dink ek net die mode skeppers of fundi’s is diep gesuip of hulle koppe tingel bietjie.

Ek stap netnou by die kantoor uit en loop my vas in n jong dame… uitgevat in n skintight denim (asemhaal is nie vandag belangrik nie), n toppie so groot soos n suikerbakkie se doilie, die hare eksie perfeksie en dan die kersie op die koek… waaiers, want wimpers kan mens dit nie noem nie. As sy haar wimpers fladder steek daar n lelike wind op. Wat het geword van een of twee lagies maskara?

Wenkbroue is die volgende ding wat my totaal en al verwar… eers was dit potlood strepies wat kon opskiet in vraagtekens of onder jou kuif gaan skuil het wanneer jy verbaas is. Nou permanent ink of iets fancy soos microblade some-other mense dit. Die blondste van blonde meisies het pikswart kouki pen strepe oor hulle voorkoppe. Dis weird, man!

Dan, wat is aan die gang in die klere industrie? Skintight… lowcut… slimfit en SKINNY is bedoel vir mense wat skinny is. Dit moet by n sekere grootte omskakel in llose fitting, bootleg flare en so aan.

Mense, gister stap ek in die straat en hier skuins voor my staan n vrou van vrygewige bou so half gebukkend. Die denim het nie die gebruiklike skeurtjies op die bobene of kniee asof sy van n fiets af neergeslet het op die teerpad nie… nee, agter, daar waar boude en bene mekaar ontmoet is daar twee moerse grand canyon grootte skeure. Broekskeur man. Dit lyk of iemand die deegskottel laat kantel het en die spul toe so kwartpad uitgeloop en gaan vashaak het. Hierdie is die tipe goed wat maak dat klein kindertjies saans monsters onder hulle beddens soek en met n ganglig aan moet slaap.

Dit gaan nie oor grootte of vorm nie maar oor hoe n mens jouself vertoon aan die mensdom. Agter jou eie toe deure kan jy laat waai met daai strappy toppie sonder n bra. Maar my mens, die vertoning van jou side-boob maak vir my nou nie so opgewonde soos vir jou man nie.

Net om my senuwees te kalmeer gaan ek nou maar search vir Boerboel broekie advertensies.

Survivor

Die lewe voel vanoggend soos n Survivor inskrywing…

Gisteraand gaan die krag af, buite Eskom se skedule. Op een van die noodgroepe lees ek van n kraghuisie wat ontplof het. Ek besef toe die een gaan tyd vat en weet ons gaan vanoggend nog so wakker word.

Jaco staan eerste op en kom sê na n rukkie die stoof se gaskan het besluit hy is nou leeg. Ons kan nie koffie water kook nie. Die blou gaskannetjie is by Tiaan op die plaas.

My volgende plan is dat ons die geyser se gaskan skuif. Dit word afgeskryf as moeite. Ek sien hoe verdwyn my oggendkoffie oor die horison die niet in. Ag, maak dan maar vuur, mompel ek…

Binne n oogwink hoor ek die byl die hout in dawer in die koel skemer oggend. Ons gaan die kampketel laat sing en sommer ontbyt aanmekaar slaan.

Kom ek nou by die waterkan…. die is ook leeg!

Soos ek hier tik sien ek my selfoon battery is op 19%

Het iemand vir my n eiland, n ou bikini, n hout bakkie en R1 000 000?

Respek

My groot swakhede is koffie, chocolates en reality tv. Een van my nuutste fondse is Unexpected…. die ervarings van tiener paartjies tydens onbeplande swangerskappe.

Waar spoeg ek vanoggend amper my oggendkoffie uit. Outjie is 18, sy meisie is 17 en 38 weke swanger. Sy het by hom en sy ouers ingetrek.

Haar ouers voel onwelkom en uitgesluit. Die mannetjie los die meisie nie vir 2 minute alleen saam met haar ouers nie. Selfs toe hy op n stadium moet badkamer toe moet sussie aan die hand saam met hom gaan.

Sy ouers het haar ouers vir ete genooi. Halfpad deur die ete staan hy op en sê hulle gaan nou by sy vriende kuier. Hy het planne gemaak. Die sussie moes haar halwe hamburger maar saamvat kar toe. Sy lyk baie na aan trane en erg onwillig.

Hy vertel vir die ouers hy is n “adult” en wil net huis opsit en onafhanklik wees… met geen werk en geen inkomste nie.

Toe die tweetjies gery het deel die ouers hulle gevoelens. Sy pa sê hulle is bewus van die seun se swak houding en dat hy verkeerd is in sy optrede maar as hulle praat skel die kind hulle en gooi n tantrum.

Wag, wat? … rewind! So, ter wille van die vrede byt hulle op hulle tande. Hy bly by hulle, hulle versorg en voorsien vir hom en sy swanger meisie. Maar hy regeer.

Boetie, ek ken nie Amerika nie maar hier waar ek vandaan kom, as jy jou ouers vloek is jy 3 taai klappe weg van n troosdiens met mooi blomme en hartseer gediggies af.

Ek kan nie dink dat dinge in n kwessie van een generasie soveel kon verander het nie. Die ma en pa van die klein brat is n jaar of wat ouer as ek. Hoe verskil hulle parenting metodes van ons? Want ek kan my nie indink dat een van ons twee seuns eers sal droom daarvan om my te vloek nie.

Tiktok

Ek persoonlik het nie tiktok op my foon nie. Dis my besluit want blare buite die venster trek my aandag af, met tiktok op my foon sal ek nooit werk, kook of stort nie. Daar is net te veel digital stront wat my forever sal hostage hou. Dis n lelike slagyster…

My liewe man kan daai videotjies kyk tot die son amper opkom en die hele bed skud soos hy lag.

So wys hy my n video van n meisie wat iets demonstreer (daar is baie meisies wat vele dinge demonstreer op tiktok) van breast tape (boob tape?) en hoe effektief dit is.

Die een bors het sy in die natuurlike staat gelos (iewers naby die naeltjie rond) en die ander een met n strepie tape opgelig en vasgeplak… die lyk nou soos n hollywood borsie op sy beste.

My kop begin werk nou in die rigting van die tape wat ek nog nooit gesien het nie en ek wonder hoe dit nou sal werk? Cellotape? Sekerlik nie, dit kan niks bo hou nie. Jaco stel “box tape” voor. Na die voed van 2 babas en n baba poedel kruis (moenie judge nie, dit was net een keer en n nood geval, ok!) is dinge nie meer wat dit eens was nie.

Maar hoe tape mens nou? Een stukkie van ribbekas na bo? Maar dan sit mens nou met side boob, wat beteken dat daar n strook of twee van linker kieliebak na regs moet loop en dalk om alles in plek te hou vir veiligheid twee stroke reg rondom die borskas ook.

Teen die tyd lyk die arme bolyf soos n Poskantoor pakkie wat na ses maande se swerf by jou aanland met n rooi “SORRY, DAMAGED” plakker skuins bo oor al die box tape geplak. Dis hier wat jou bates na laste begin lyk. Die tape moet maar wag, ek is nog nie reg om my bra’s te offer op n brandstapel nie.

Drawwers

Daar is n ding wat vir my moeilik is om te verstaan en verwerk… die ding van mense wat draf asof hulle nie swaarkry nie.

Hulle draf en draf, oorfone in die ore, selfoon op die bo arm vasgesit met iets wat lyk soos n bloeddruk meter se cuff. Geen uitdrukking op die gesig nie, of erger, n glimlag… asof dit lekker is. Die arms en bene beweeg in gelid, ritmies. Asemhaling lyk normaal.

Ek moet erken dat ek al ongemaklike drawwers ook gesien het, diegene wat bybels draf… die linkerhand (en been) weet nie wat die regterhand (en been) doen nie.

Die spannetjie wie se koppe beweeg soos die los kop op die bruin fluweel hondjie op die dashboard van die lime green of modderbruin 19-voertsek cortina.

Die ou wat met n paniek-gesiggie lyk of hy die spoedstap badkamer toe doen na gister se hoenderpastei wat hy by die garage gekoop het tydens die einste draffie…. mammie moenie sien hy draf eintlik agter n snack aan nie.

Met die ongemaklike drawwers het ek hope simpatie. Dis die ander span oor wie ek my bekommer. Indien hulle dwarsdeur die winter draf, des te meer rede tot kommer.

Ons bootcamp instrukteur het hierdie roetine waar ons begin teen 60% van ons maksimum spoed, dan 80 % en dan 90 %. Ek het vir hom gesê dat ek net 1 spoed het.

Ek het nog nooit my maksimum spoed uitgevind nie, ek klim nie uit n voertuig in die wildtuin of terg die bure se hond nie. Ek is nooit as kind genooi om saam toktokkie te speel nie en is altyd in die LO klas laaste gekies as ons rounders gespeel het, die hele span het dan gesug, skouers laat sak en gebrom omdat hulle beurt so geval het dat ek hulle lot was. Snaaks genoeg, in enige algemene kennis speletjie of vasvrae was ek baie welkom. Ek dink vinniger as wat ek draf.

Gisteraand kyk ons n fliek waar n meisie weer elke 10 minute in stywe klere pad af of teen trappe op draf, moeiteloos.

Ek lyk soos n orkaan wat landplek soek, klink soos n buffel migrasie oor die grasvelde (terwyl sir David rustig in die agtergrond praat), my bobene sit vas in my tight en klink soos n belt sander en vloerplank wat ontmoet. My bors brand en my kniee begin voel soos die jellie wat vla oor kry op die tv, bewe-bewe-bewe!

Indien daar enigiemand is wat weet hoe lank mens oefen voor jy so moeiteloos kan draf, ek hoor graag van julle.

Medemenslikheid

Daar is seker lekkerte aan bly in die stad. Baie winkels, gerieflik naby flieks en groot hospitale ens.

Maar die platteland… vanoggend vroeg in Spar sien ek die apteek dame en onthou ek het my chronics nodig. Gee net daar n lysie vir haar. Die apteek oom kom nou met die pakkie en die afleweringsboekie.

Hier ken ons mekaar se name, kyk uit vir mekaar… ons sien mekaar nog raak.

Hier is slaggate en slegte water en kragonderbrekings maar hier is ook medemenslikheid en daarmee kan mens ver gaan.

Waarde en wysheid

Gisteroggend toe ons wakker word is die balkon sopnat en alles is grys. Glad nie die ideale weer vir sandkasteel bou nie. Ons besluit om n ent te gaan ry en plekke kyk.

Rondry en plekke kyk en fotos neem maak mos op n stadium honger. Ons eindig in Paternoster.

Die reën en grys het redelik opgeklaar. Ons gaan verby die plekkie waar ons altyd die vis en tjips koop wat in papier toegedraai is.

Ons stop by Paternoster Waterfront. Stap rustig daar op en af en kry n eetplekkie. Die spyskaarte word voor ons neergesit deur n aangename jong man wat goeie engels praat, selfs wanneer ons afrikaans praat.

Ons bekyk die spyskaart met goed op soos sour soup (say what?) teen R115 en seaweed salad (huh?) vir R120. Doodgewone broodjie met blaarslaai, tamatie en n repie spek kos iets soos R120. Hoe verder ons lees hoe meer frons ek…. daar is items van tot R465 per porsie.

Toe die koeldranke voor ons neergesit word vra Jaco die prys per blikkie want dit was nie op die spyskaart nie. R35 vir n 200ml blikkie. Daar is n spontane verstomde stilte. Toe Jaco se mond in n vraagteken trek sê die mannetjie hy maak nie pryse nie, hy dra net kos aan. Sy blink engels waai toe saam met enige hoop op n stewige fooitjie op die seebriesie weg en hy praat weskus afrikaans. Hy verseker ons sommer ook dat die drinkgoed nog nie opgeskryf is nie, die blikkies nie oop is nie en dat hy geen aanstoot sal neem as ons besluit ons wil elders gaan eet nie. Die gladheid waarmee hy die takie afgehandel het is vir my bewys dat ons nie die eerste mense is wat frons vir coke wat duurder as petrol is nie. Ons staan op soos kinders wat die skoollied in die saal hoor… met die kelner se omdraai en wegstap vat die man wat agter ons gesit het (en die hele gesprek aangehoor het) die blikkie van die skinkbord af asof iemand “last round” geskree het en hy nog dors is, net om die dolla by hom se ogies te laat rek. Hy sal nog leer dat n man nie n groot beursie nodig het om n indruk te maak nie.

Ons sou seker kon bly en R140 vir 4 blikkies koeldrank betaal en altesaam R1 000 armer daar wegstap na elkeen n broodjie gehad het. Dit maak egter nie sin nie. My broer het altyd gevra “is jy mal of soek jy brood?”… wel, ek is nie so mal dat ek soveel vir brood sal betaal nie.

Ons ry baie bedeesd huiswaarts en stop en koop pizza, koeldrank, brood, vrugte en wyn…. alles vir minder as wat ons middagete rekening sou wees. Met een oog kyk ek wat kos n 200ml blikkie koeldrank by die supermark… R11.

Ons het met minder as R300 genoeg pizza gekoop om 4 volwassenes, n honger kat op n hawemuur en n voetsleep moedelose man langs die pad te voer.