Vanoggend se fb reminder wys vir my dat ek vandag amptelik 15 jaar in diens is by my huidige werk. Dit sit my op n dink trippie…
Die eerste keer wat ek die lykswa om die kantoor sien trek het nadat iemand gaan haal is. Elke sterfgeval het nog my asem so bietjie laat wegraak.
Die eerste keer wat ek saam was om iemand te gaan haal… toe ons by die huis aankom vra die familie ons moet bietjie wag, iemand is nog op pad wat graag wil afskeid neem. Toe leer ek die eerste van baie lesse… tyd maak nie saak nie. Ons sit en tee drink in die sonnetjie op die stoep terwyl ons wag. Rustig word ouma se lewe onthou en n paar herinneringe gedeel.
Sedert daardie “eerste” het ek al baie ander beleef – lykswa ritte met net myself en n oorledene in n kis, vroegoggend diep in die winter twee dorpe verder deur die Karoo, op pad kerk toe, ritte na PE se krematorium.
Nag ritte, somer en winter, om iemand by n huis, hospitaal of ouetehuis te gaan haal. Dit is altyd vreemd vir my om netjies aangetrek, hare gekam by iemand op te daag 2 uur in die oggend.
Die eerste kind wie se begrafnis ek moes hanteer. Mense se verskillende reaksies op die dood, hoe ons almal skok en hartseer verskillend hanteer.
Ek het voorregte wat ander mense nie sommer kry nie, ek het my eie ma se diens van begin tot einde gereël, dit is vir my die mooiste een nog gewees. Blomme en kerse presies soos sy daarvan gehou het. Paar maande later oupa se diens.
Ons beland binne in mense se diepste seer en mees persoonlike herinneringe. Dis n spasie waar vreemdelinge nie hoort nie. Dit maak my werk n voorreg.
Die hartseerste oomblikke. Ek vra eendag, net voor ek by die kerk weggaan, vir n tannie of daar nog iets is wat sy nodig het of wat ek kan doen. Sy sit haar hand teen die agterruit van die lykswa en vra “kan jy nie net my man vir my terug bring nie?” Ek het gehuil tot by die kantoor.
Die laaste jaar was sekerlik die moeilikste een. Ek het meer as een maal in Desember, wat n riller maand was, vir my kollege gesê “ek kan net nie meer nie”. Ek wil nie nog een dood gaan registreer van iemand wat ek ken nie, ek wil nie meer grafte koop en blomme bestel en pamflette tik nie.
Maar…more gaan ons weer die week begin met grafte koop en reëlings tref… dit bly n voorreg.