Koeitjies en kalfies

Vanmiddag is die kantoor weer vol kliente… Klomp vrouens en een oom wat met sy ken in die hand op n kierie leun. Die vrouens kla almal oor hulle kinders wat altyd geld soek en net nie uit hulle sakke kom nie, selfs die volwasse kinders… Die oom sit tjoepstil die hele storie en beluister. Toe die vrouens almal op n slag asem skep en daar n oomblik se stilte is sê die oom “die kalfies drink mos aan die koeie, nie andersom nie!” Stilte… Geen vrou het n antwoord nie. Fluit fluit is die oom met n swaaiende kierie die deur uit. Toe weet ek…. Geen vrou sit die oom ore aan nie, hy is nie vandag se kind nie!

Karoo klonge

Mens kry mans en dan kry jy Karoo klonge… Karoo klonge is iewers tussen die oom met die cowboy hoed en die jas wat in die ou dae die stink sigarette op die tv adverteer het en Chuck Norris.

Jy gaan nie by n Karoo klong verby stap en in die wind n uitdaging in sy rigting slinger en dan dink hy gaan jou net los nie.

Hy gaan die uitdaging vat en wat hy vat vat hy vas, pappie.

Stap ons vanaand la-la-la die zumba klas binne, swaai ons handdoekies en water bottels en vries.. Want daar voor in die klas staan daar vir jou kuite, bo bene en pt broeke… A-graad!

En toe die musiek begin, toe beweeg daai manne. Niks van kom ons kyk eers en try bietjie nie… Nee, hulle is op n ding en hulle vat vas… Hulle spring en swaai heup en skop hou vir hou saam met Dehan Stroebel.

Nee kyk, Magic Mike kan sy ou strikdassie ophang, ons klonge het moves!

Zumba in elke geur

Julle onthou die ou liedjie.. My nooi is in n nartjie, my ouma in kaneel…

Soos daar is meisie in elke geur is is daar ook n zumba liedjie/roetine vir elke bui.

Partykeer kom jy heel happy by die klas aan, dan kan jy net spring en skud soos n barman wat n cocktail maak.

Voel jy bietjie down… Verbeel jou jy het n sluier oor jou gesig en skud jou heupe soos Aladdin se girlfriend…

Dan kry mens mos daai dag wat tande het en jou net next level bemoerd het teen die tyd wat die son sy kop laat sak. Die dag het sy eie tune – is daai mix wat voel hy hou nie op nie. Dis soos die merry-go-round doerie tyd by Kings Beach in Desember. Die een oomblik is jy op jou tone, die volgende spring jy op en af en skud jou arms hier langs jou ore soos n aspirant rapper wat sy woorde vergeet het en nuwe vloeke spoeg… Jy maak swem bewegings met jou arms en gooi hulle voor jou gesig soos n bul wat n rooi lap gesien het.

Wanneer jy na die uur by die deur uitstrompel of huppel is jou heupe, jou gees en jou bui ewe lig. Daar is nie n sad einde by n zumba klas nie!

Nou moet die meisie by die gym voor nog net haar deel doen en daai gin-on-tap kontrepsie langs die water cooler neersit. Dan kan ek twee keer n week gaan gin-en-jive. Ek het vir haar gesê dis n fantasiese besigheidsgeleentheid maar aan die kyk op haar gesig reken ek ons gaan dalk een van daai goed kry wat die wortels en spinasie versap!

Maritale mag

Ek en Jaco sit en gesels oor huwelikke en hoe verskillende couples, veral ouer vs jonger mense die saak aanpak, hoofsaaklik die finansiele aspek daarvan. Baie keer as een maat wegval het die ander een nie n clue van wat aangaan met die geldsake nie.

Hy vertel my van n storie genaamd “maritale mag”… Halfpad deur sy storie voel dit of my bra sommer spontaan aan die brand wil slaan…

Ek wonder toe half hardop of daar tydens die storie meer of minder egskeidings was… Minder, meen hy want die vrouens was meer gehoorsaam.

Uhm, Boetie, ek weet genoeg van ons geldsake dat jy nie sulke wilde stellings kan maak nie. Gehoorsaam se dinges!

Die goriela op die Knysna pad

Hierdie corona/covid 19 maak almal op verskillende vlakke bang. Die met geld bekommer hulle oor hulle geld, die sonder geld bekommer hulle oor hulle gebrek aan geld, die met swak gesondheid bekommer hulle oor gesondheid.

Party hoor die volle gevaar, is ingelig en berei hulle dienooreenkomstig voor. Ander het helfte van die storie gehoor en is paniekerig. Daar is diegene wat voel dat Gods water maar moet loop waar dit loop en dat almal n 50/50 kans het.

Daar is nog n groepie… En dit is met die groepie met wie ek die meeste simpatie het. Die ouma met die pruimplooi gesiggie wat, terwyl sy haar doodsboekie se geld uit die geknoopte sakdoek in die duisternis van haar boesem uitdiep, vir ons vertel dat haar kind nie die jaar van Knysna af kan kom vir die Easter nie. Want sien tussen hier en Knysna is n “goriela” wat die pad blok en die kind kan nie daar verby nie. Dan is daar ander wat praat van die Corolla siekte. Die een oom reken ons moet net almal anti freeze drink. Hier by ons word spottenderwys na Old Brown Sherry verwys as anti freeze want dit maak jou innerlik warm in die winter.

A rose by any name….is still a rose. En die siekte bly n kaktus van formaat. Hy het vigs in die skadu kom stel. Mense koop hand sanitizer soos niemand nog ooit kondome gekoop het nie.

Iemand sê vandag die enigste rede hoekom die regering so baie aandag aan die pandemie skenk is omdat die siekte nie uitsoek nie, oud of jonk, arm of ryk, almal loop deur. Tot prins Charles het positief getoets. Ou queen Lizzie moet dink dis n kindersiekte.

Ons neem kennis van syfers, gevalle en statistieke en die ongemak groei. Twee weke gelede het die grappies en prentjies dik geloop. Nou lag niemand meer nie. Ons dink, besin en vir die eerste keer in jare is gesinne saam, dag in en dag uit. Elke donker wolkie het n randjie. Ons kan net hoop dat hierdie duur les n les is wat nie vergeet word nie en dat ons, wanneer vryheid van beweging weer binne ons greep is ons onthou dat tyd en vryheid kosbaar is… Kosbaarder as goue munte, prestasies en sukses.

Die regte bus…

Lewe saam met ons moeder was nooit vervelig nie! Mis haar skerp humor en go-getter persoonlikheid.

Donderdagaand pret…. Oudste voel nie lekker nie – probeer help. Telefoon lui… eerste gedagte – WERK!! Is moeder, 11 uur in die aand… nie werk nie maar duidelik ander moeilikheid, ons bel mekaar nie sommer na sononder nie. Sy wag in Middelburg vir die bus (Intercape) om Bloemfontein toe te gaan. Die busbestuurder woerts deur die dorp sonder om te stop. Ma hulle op spoed agterna maar die bustestuurder is te vinnig vir hulle. PANIEK! Sy’t die bus gemis en hulle is nie eers laat nie! Bel Intercape se nommer, reg vir ‘n geveg. Kry kaartjie nommer, Abdul is baie vriendelik, geduldig en wakkerder as ek… “Ma’am, the bus your mom is chasing – is the WRONG one!!!” Sooo, hoe moes ons weet daar gaan op een aand meer as een Intercape bus deur Middelburg???

Huisnagmaal

Toe ek n kind was was kerke en biblioteke verhewe plekke waar ek op my tone geloop en saggies asem gehaal het.

Kerkbanke het fyn gekraak en gesangboekies se bladsye het saggies geritsel, alles was gedemp eerbiedig.

Die Sondae wanneer daar nagmaal bedien is was dit asof daar nog n stiller en waardiger stemming in die gebou gehang het.

Ek het grootoog gekyk wat die grootmense gedoen het. Die silwer beker en broodblokkies was nie binne kinderbereik nie. Ek het nooit eers gedroom dat dit gewone brood was wat so gesny was nie.

Fast forward my kinderlewe deur tot waar ons nou self kinders het wat al bietjie groter is, die kerk dinge heel anders benader en nagmaal met klein glasies en n familiebroodjie bedien word en ons seuns klein klein al saam met ons mag nagmaal gebruik.

Wanneer dit die Sondag nagmaal is het Sas en Tiaan om die beurt langs Jaco gesit en het hy verduidelik en dan gevra oor die betekenis van nagmaal. Die twee het altyd heel goed verduidelik en hulle tonge het dalk net n bietjie gestruikel oor die woord sakrament.

Dit bly spesiaal dat die hoof van die huis die familie broodjie deel en met die bank langs aangee vir ons spannetjie. Dit gee n gevoel van saamgebondenheid, n hegtheid van ons gesinskringetjie so saam in die kerk.

Vanaand, met die vreemdheid van lockdown is daar geen nagmaal by die kerk nie, geen byeenkoms vir die begin van die paasnaweek nie. Niks aan die laaste paar weke voel gewoon of normaal nie. Dit wat elke jaar se normaal was is net anders…. Maar nie afwesig nie.

Ons kyk Annatha se boodskap en gebruik nagmaal as n groepie van 3 in ons eie sitkamer. Toe ek klein was sou dit sekerlik vir my onwettig gevoel het. Om iets so verhewe in n doodgewone omgewing te doen sou ondenkbaar gewees het.

Maar… Vanaand pak ons tuisgebakte stukkies broodbolletjies en blink kelkies op n silwer bordjie met n mooi lappie en kerse. Die boodskap en die atmosfeer wil my soos kleintyd weer laat liggies trap en saggies asemhaal. Eerbied en verwondering.

Behoede my

Toe ek so standerd 7 rond was het my ma hulle n kêffie (winkel sonder self service) gehad op Kirkwood, buite die dorp. Regte plaas winkeltjie wat bietjie donker was en na gis en parafien geruik het. Daar was n groot toonbank met hout rakke agter waarop suiker, meel, eiers en ander produkte was… Ook boksies met klein botteltjies medisyne wat sleg ruik.

Ek het baie daarvan gehou om in die winkel te werk… Daar was blikkies coke en los lekkers wat ons verkoop het in sulke cones wat ons uit bladsye van ou huisgenote gemaak het.

Maar terug by die stink medisyne. So elke nou en dan het iemand gevra vir behoedmiddel. Siende dat ek op daardie stadium nog net n jaar of so bra gedra het en n vae idee gehad het van die dinge van die lewe het ek gedink hulle soek of die pil of kondome. Nou wat se tipe winkel dink hulle is die? Dan bloos ek maar mooi en sê nee jammer, ons het nie!

Dat ek nou op n meer gevorderde ouderdom moes uitvind waarvoor dit gebruik word! Diarree, maagpyn en naarheid.

Leg day

Gisteroggend net toe ek wakker word en dink aan my seer lyf en die stel oefeninge wat voorlê… Poef, sit die beurtkrag mannetjie die krag af! Nou nie dat mens juig oor die soort ding nie maar ek was stilletjies dankbaar. Is mos nog effens skemer hier teen 05:15 in die oggend en die waaier staan ook doodstil.

Vanoggend is n perd van n ander kleur. Mannetjie los die liggies en die waaier aan en ons lig maar die lyfies en maak reg vir die oggend se oefeninge.

Net daar moet ons toe die knieg buig voor “leg day”. Dit lyk misleidend maklik. Sitlê met een been gebuig. Die reguit been op-en-af eers en dan heen-en-weer, toontjies spoggerig gepunt na bo.

Dan kom die ding… Jy maak eers driehoekies in die lug en dan vierkante. My bene voel later soos loodpype en my driehoekies raak vraagtekens en my vierkantjies raak groot sirkels. Die sweet loop. Dan bietjie op jou sy asof jy gaan lepellê en gooi die beentjie op en af, op en af. Ter afsluiting gou gou n plank-minuut/week van my lewe.

Lekker man… Nou vir die ander been. Dis waar dinge begin moeilik raak. My lefthanded funkinezzz laat nie my brein toe om so alles te doen nie. Liefie hier neffens my teken die mooiste driehoekies en sirkeltjies terwyl dit lyk asof ek n swerm bye met my een been probeer afweer.

Indien ek dalk vandag iewers oor jou pad kom en voor jou skuifel hanteer my asseblief soos n kar met n groot rooi L op die agterruit, met geduld, begrip en deernis.

Planking

Hier sit ek nou… Op, moeg, gedaan!

Vanoggend besluit die man van die huis dat ons vir die eerste keer in n lang tyd met die gewigte moet oefen. Jinne julle! Ek dink die stof wat opgegaar het maak die goed ekstra swaar.

Dit is reps en sets en asemhaling… My wange staan bol en my kuif hang pap.

So gaan ons deur die lysie en aan die einde moet ons “plank”. Ek dink mens kry sekondes, minute, ure, weke en dan kry jy n plank-minuut. Dit kan nie n gewone minuut van net 60 sekondes wees nie.

Ons staan op-ons-plekke-gereed en dan is daar n stadige stophorlosie wat die tyd aftel terwyl Spotify n deuntjie speel.

Ons staan potternjorts omhoog vir wat voel soos 15 minute maar die stophorlosie tel net 15 sekondes af. My bobene voel of hulle “pop” soos the Hulk s’n en ek voel effens groen ook.

Spotify speel ewe cheeky Eye of the Tiger maar ek wil meew soos n klein katjie!

Na die langste minuut in die menslike geskiedenis kan ons ontspan en net daar draai my lyf vanself in n fetus posisie!

Ek sal maar moreoggend eers die gewigte afstof en kyk of dit help.