T. M. I…

Of dit my gesiggie is, of die feit dat my ma dit in ons ingedril het om alle mense met respek te behandel, maak nie saak wie hulle is of hoe hulle lyk nie weet ek nie… Maar wildvreemde, en partykeer sommer net vreemde (soos in weird) mense het die neiging om my te nader en hulle mees persoonlike probleme en begeertes voor my bloot te lê. Partykeer is dit spesiaal en partykeer net out of this world vreemd, soos vanaand.

Ek draf gou by Spar in om n paar goed te kry, die week was lank en dit is lekker om sommer net alleen rak vir rak deur te stap sonder om gejaagd te voel. Dalk het die feit dat ek sonder toesig pappa se beursie in my besit het iets te doen met my innerlike vrede en vreugde…

Ek kom by die betaalpunt toe daar n skielike beweging aan my linkerkant is, n gesig hier by my opduik en een van die motorwagte hoorbaar vir my sê (ek dink hy wou fluister)… My merrim, ek wil n ding met jou bespreek, maar nie hier waar almal my besigheid kan hoor nie, ek wag hier buite op die stoep. Ek en die kassier loer vir mekaar en ek trek skouers op.

Hierdie gesprek gaan heel moontlik handel oor sy deel van gevoelens en my deel van kontant. Ek hou solank die geldjie wat ek eintlik aan die ander karwag wou gee in my hand as voorsorg.

Twee tree buite die deur staan hy toe ook solank op aandag. Hy val met die deur in die huis… Merrim weet mos ek het laas week verjaar, jip hy het my al 2 maal herinner. So, ek het besluit om vanaand bietjie uit te gaan… Daar in die sak is my skoon broek. En ek het my hare laat doen… Af kom die keps sodat ek die vlegsels kan aanskou, netjiese rye maar dit lyk asof die haarkapper halfpad boedel opgegee het, want net een helfte is gevleg, die ander helfte uitgepluis in n wilde affro. Maybe it’s fashion, maybe not.

Merrim sien, ek gaan nou wag tot so 10 uur toe, dan is die meisies al lekker nat (seker aangeklam), dan kyk ek vir enetjie en koop vir haar n biertjie. Dan later vat ek haar terug na my kamer toe… n Man het bietjie grillerigheid in sy lewe nodig. Ek moet die biertjie koop want ander kla sy en dan kry ek 15 jaar…

Oooo, kry ek n halwe woord in… Ja, merrim dis maar hoe dit werk. Die ding is nou net dat ek nie geld het vir die bier nie. My nuuskierigheid kry die oorhand en ek vra hoeveel so aand hom nou sal kos… R50 sê hy. Sjoe, sê ek…

Teen die tyd vat dit al my wilskrag om my gesig reguit te hou. Ek hou die geld in my hand na hom toe uit. Hy glimlag skreefoog. Ek wens hom n mooi aand toe en sê oor my skouer, nou toe, jy moet veilig wees! Ek kry n regop duimpie en hy laat hoor luid… Moenie worry nie, ek gebruik sakkies!!! So much daarvoor dat almal nie sy besigheid moet weet nie! Ek het meer gedink aan jaloerse boyfriends met messe of gebreekte bottelkoppe, maar siektes is seker net so gevaarlik.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *