Gisteraand op pad huis toe na die naweek doen ons iets wat nie die norm is nie .. Ons stop by KFC… Ek staan bakhand by die deur vir sanitizer, staan op die red dot 2 m van die persoon voor my af. Toe dit my beurt is bulk ek my behoefte aan die kassier deur my masker.. 2 keer want die lap oor my snoet bevorder nie kommunikasie nie. Die kassier vra of ek R3 wil skenk aan n honger siel en ek sê nee dankie. Betaal en gaan staan in die volgende drukgang.
Die persoon 2 meter agter my neem my plek by die kassiere in en plaas sy bestelling… En word gevra vir n R3 donasie.
Sy antwoord kom asof oor n megafoon, teatraal en met handgebare… But of course my darling, how can we rob them. People do not realize how fortunate they are to just walk into KFC and be able to buy food…
Ek rol my oë dramaties (slegte gewoonte van kindertyd af) en dink “Ag @%&, man… Klim van jou seepkissie af en gooi sommer namens my ook R3 in die blikkie.
Nou staan en bekyk ek die man met sy afsak denim (lyk hy het klaar sy boudjies vir charity geskenk!) en bedink die situasie…
- Dit is maar sy styl en hy gee elke keer die speech want dit laat hom belangrik voel.
- Hy het n poging aangewend om my te bekeer tot KFC charity.
Ek het, lank na ek my cholesterol laat bollemakiesie slaan het nog nie n antwoord gehad nie. Ek en die oom slaan nie dieselfde stel dromme nie. Ek glo dat wat, wanneer en vir wie ek iets gee niks met die mense om my te doen het nie. Maar dit is nou maar my R3 gedagte. Nou klim ek van my seepkissie af.