Die lewenssiklus van wasgoed

Die nederige wasgoedmandjie… Plastiek of bamboes, bedrieglik… op die oog af onskadelik.

Dit begin so onskuldig… Amper flirterig. Eers n sokkie, dan nog een, n frokkie en n broekie, miskien n bloes of n baadjie. Wanneer jy weer sien is die mandjie vol en loop jou gemoed oor. Het jy dan nie net nou die dag die mandjies leeg gemaak nie?

Voor jy jou kom kry word die mandjies waskamer toe gevat en begin die siklus.

Partykeer is die klere in die mandjie, ander kere is dit n jagtog van formaat. Onder die bed, langs die bad, in n hoekie vergete in n kamer.

Sorteer, sorteer. Witgoed eenkant, fyn goedjies op n hopie, sokkies saam, handdoeke op n hoop. Molshopies word berge. Papies rustend bymekaar.

Die wasmasjien wag oopbek gretig vir die bondels en bondels klere. Tjommel tjommel, gor-gor werk hy flink deur die bonte mengelmoes, van denim tot katoen, wit, blou en groen.

Terug in die mandjie en die papies vlinder fladder gou gou in die windjie op die draad. Salige briesie en sonskyn, goue strale wat streel.

Die geurige droeë vlinders fladder terug in die mandjie, snoesig en sag. Nou vir die finale stappie voor hulle n rusplek kry in die kas. Sorteer, vou en stryk.

Skielik is sokkies enkel alleen… Maats nêrens te vind. Eensaam, verlore en verdrietig. Die twee eensaamste goed in die hele wye wêreld is n enkel sokkie en n Tupperware deksel sonder n bakkie.

Die vlinder-lappies vind gou n plekkie in die kas, geurig, kleurvol en glad.

Siklus voltooi. Die beste 10 minute in enige vrou se lewe is wanneer die wasmandjie, wasgoeddraad en strykmandjie almal tegelyk leeg is. Soete oorwinning, dit gebeur so selde.

Hande in die hare

Hierdie, my liewe vriende, is n uitroep om hulp!

Ons mag mos nou al vir 2 maande nie regte sigarette, drank of haarkappers gebruik nie. Nou het ons verander in nors nugter voëlverskrikkers.

Ek wik en weeg nou n week lank met die kuif wat my pla. Ek kan nie self knip nie want ek is onhandig linkshandig.

Vanoggend is ek weer vies vir die nes op my kop en my man, wat regshandig en regdenkend is, sê “bring die skêr en die kam!”.

Met n tuiskapsel het jy basies 2 opsies…. Of, snip-snip-snip bietjies op n slag tot jy n gewenste resultaat het, of die meer gewaagde skat-en-knip opsie. Ons gaan vir opsie 2.

Ek was so in graad 4 rond toe my ma een keer besluit om my kuif te sny. Die hare het my neus bly kielie, die stoel se een poot was effens korter as die res en ek het n algemene kriewel gehad. Die uiteinde was n kuif wat lyk soos die van daai girltjie van “Die Antwoord”.

Ek is vanoggend bevrees vir n herhaling van daardie style, maar ek is desperaat en knyp toe maar net die kuif tussen 2 vingers vas en beduie vir liefie om te knip.

Hy KNIP en toe ek my vingers wegvat wip my kuif op en ek gee n verwarde gilletjie. Die mense wat so huil oor melk wat gemors het weet niks!

Gelukkig, na n was en druppel conditioner lyk dit toe heel goed.

Indien dit na die ander kant uitgewerk het sou ek maar net skouers opgetrek en n hoed gaan koop het!

Solitary confinement en kurwes…

“Solitary confinement is a form of imprisonment distinguished by living in single cells with little or no meaningful contact to other inmates, strict measures to control contraband, and the use of additional security measurements.”

“Solitary confinement has been reported to cause hypertension, headaches and migraines, dizziness and heart palpitations. Many inmates also experience extreme weight loss due to digestion complications and abdominal pain. Many of these symptoms are due to the intense anxiety and sensory deprivation.”

Vir baie jare al weet die mense in die gevangenisse en ouers van enige hardhorende tieners dat hierdie die mees effektiewe metode van straf moontlik is. Nou gebruik die regering dit ook… en ons het niks eers verkeerd gedoen nie.

Ek is nie die wêreld se grootste ekstrovert nie, en hok was nooit ‘n straf wat my gepla het nie, behalwe wanneer ek nie mag biblioteek toe gegaan het nie! Daar is wel n klompie mense van wie ek nogal hou en by wie ek graag van tyd tot tyd gaan kuier. Ek het raak gelees dat die slim mense in Amerika beweer dat enige solitary confinement van langer as 15 dae aaneenlopend beskou word as “inhumane”… Die aanvanklike geskatte 21 dae is lankal verby. Ons trek by dag 60 wanneer die son moreoggend sy kop uitsteek!

Vir volwasse mense om skielik te hoor – jy mag dit, jy mag nie dat nie, jy mag nou maar nie later nie. Dit is heeltemal teen die grein van ‘n volwasse, onafhanklike mens. Dit maak ons moeg, kwaad, verward, gefrustreerd.

Flatten the curve… Trek die kurwe plat. Dit is die nuwe singsong van diegene bo ons. Hoe doen ons dit…. Deur stil te sit, stil te bly, nie enigiets wat wettig is te rook of te drink nie. Werk dit? Nee skat, dit werk nie… Dit is maar my beskeie opinie wanneer daar sommer
+1 280 nuwe gevalle binne 24 uur aangemeld word. Die ekonomie kry swaar, die mense van die land kry swaar.

Siende dat ek ‘n meisie met ‘n paar kurwes is, dit staan selfs op die label van my denim… “Specially engineered for a curvier fit” sien ek myself nogal as ‘n ekspert op kurwes en een ding kan ek vir jou vertel – ‘n kurwe is nie ‘n ding wat homself sommer net so laat plat trek nie. Vra my, dit is my lewensmissie om party van my kurwes platter te trek! Dit is nie iets wat binne ‘n paar dae gebeur nie!

Tog is ek dankbaar vir die klein vergunnings, soos om op ‘n Sondagoggend wanneer dit nog amper skemer is, die vet jack russel en die fris pitbul aan leibande te vat en tot so na as moontlik aan 9 uur met hulle buite te stap en hulle te laat baljaar. Ek is dankbaar vir die feit dat ek nogal baie van my man hou, dit is nie so erg om vir redelike lang tye net in sy geselskap te wees nie.

Ek mis my Kaapse kinders, ons het mekaar amper ses maande laas gesien! Ek mis die see en ‘n soft serve roomys, ek mis dit om oor die knop verby Michausdal die dorp uit te ry vir ‘n naweek, ek mis dit om by vriende te gaan koffie drink, ek mis die boekwinkels in die mall.

Die president gaan ons vanaand dalk 7 uur, dalk 9 uur toespreek. Ek sou hom graag wou vra… “Mr. President, please change the bylaws, in order for me to visit my inlaws without becoming an outlaw”. Dis mos nie te veel gevra nie. Ek het hom nie eers gevra om Tops oop te maak nie!

Fort Fordyce staptog

Desember 2018 besluit ‘n groepie van ons om vir Kersfees Fort Fordyce toe te gaan. Daar is ‘n huis met meer as genoeg spasie vir ons, ons kinders, ons vriende, ons verskeidenheid kerskos en ons braaivleis. Slaapplek vir 18 mense, ‘n kuierstoep om van te droom, kaggel in die sitkamer en ‘n regte egte plaaskombuis met ‘n kombuistafel groot genoeg vir ons almal.

Synde ons in die geselskap van gesoute 4 x 4 manne is loop die roete op die grondpaaie en agterpaaie, verby Kommandodrift dam, berge en dale deur. Ons weet nou nog nie of ons ‘n bietjie verdwaal het en of ons net die ekstra scenic route gevat het nie.

Die kuier is so suksesvol en ons so versot op die stil plek met die huis op so ‘n hoogte dat mens in drie rigtings net berge sien dat ons besluit om in die winter terug te gaan en ‘n wandelroete te doen… “Wandel” is nie die regte woord nie! Maar dit het ek nog nie geweet nie.

Winter breek aan en baie opgewonde word die pad weer ‘n keer aangedurf. Aangesien ons Desember maand daar kon kaggelvuur maak het ons ‘n lekker koel winter verwag. Ons pak alles wat warm is in, dik kouse en goeie stapskoene. Ek is nie so hoog op stapstewels nie en pak tekkies in. Gelukkig as ‘n nagedagte ook ‘n paar stapstewels wat ek nie regtig van plan is om te dra nie.

Voor die staptog is ek vertel dat dit so 15 km lank is maar nie so ‘n moeilike roete nie. Ek het so paar keer voor die tyd probeer om ‘n 5 km in die oggend te stap padlangs, net om nie heeltemal my naam met ‘n plank te slaan nie. Die slim mense sê dat indien mens 5 km stap/draf behoort jy dubbel die afstand te kan aflê tydens ‘n resies (gelukkig gaan ons mos net lekker stap). Ek wil darem nou nie blaas soos ‘n bees voor die mense wat dalk fikser as ek is nie.

Die oggend van die groot stap breek aan. Ons begin rustig, alles lekker in die veld, daar is ‘n historiese boom op die pad. Ons verdwyn tussen die bome en skielik is dit oerwoud. Die bome is so dig dat die sagte reën gehoor kan word maar nie deur die blare dring nie. Die ding is…. die pad loop al die pad afdraend, soos in erg afdraend dat my tone vasdruk teen die voorkant van die onwillige stapstewels wat ek toe gelukkig aangetrek het. Die jare oue blare en mos maak die pad glad, modderig en glad nie tekkie terrein nie.

So entweg in die staptog sê ek vir my man ek worry oor die afdraend. Nie omdat dit heelpad afdraend is nie, maar omdat dit beteken dat die terugtog dan heelpad opdraend gaan wees. Ek is bang ons gebruik al die afdraend op en ek weet wraggies nie hoe ek dan terug gaan kom by die huis nie. Die paadjie is nou ook, ons stap agter mekaar soos skoolkinders.

Na ‘n uur en ‘n half se stap kom ons by die waterval aan. Bitter mooi, koel en klam en die waterval is toe ook die einde van die pad. Enige hoop en drome van ‘n ander pad huis toe verdwyn soos mis voor die afwesige son! Terugpad is soos ons gekom het maar in reverse…. dit beteken, soos ek gevrees het, al die pad opdraend! Na ‘n hopeloos te kort ruskans draai ons terug. Die eerste 500 m is oraait. Ek stap derde van agter af. Agter my stap my man en agter hom dek Marius die agterhoede.

Ons stap en stap, daar is geen einde nie. Ek besef dat ‘n mens se lyf ‘n wil van sy eie het. My kop sê nog stap dan besluit my bene net hokaai, stop die lorrie, nie een treë verder nie. Dan gaan staan ek, hande op my kniee, Jaco loop in my vas en Marius loop in hom vas…. domino effek! Na ‘n paar minute voel ek asof ek weer kan stap. 10 Treë dan domino ons weer! Die mense voor my raak weg daar doer voor. Die paadjie is van so aard dat daar nie sitplek is nie, ek kan net hande viervoet staan en blaas en bulk, my asem en moed bymekaar skraap en weer stap tot my bene uitsny soos ‘n lister enjin wat overheat! Die tieners in die groep het vir my twee langerige stokke gebring wat hulle opgetel het. Ek kan dit soos kieries gebruik, dit help nie eintlik nie, maar dis seker die gedagte wat tel.

Ek wonder later waar die search en rescue helikopter gaan kan land en hoe die mense my op daardie dun stretcher gedra gaan kry tot terug by die helikopter…. en of die straps van die stretcher my gewig gaan kan dra, en of daar genoeg manne gaan wees om die stretcher te dra. Hulle moet my net nie laat val nie, want dan word die stretcher ‘n bodyboard en beland ek terug by die waterval!

Na ‘n ewigheid is ons terug waar die staptog begin het. Dierbare tieners het vooruit gedraf en ‘n voertuig gaan haal, en my die laaste 1.5 km pad gespaar. Ek was in my lewe nog nie so bly om ‘n voertuig te sien of om my skoene uit te trek nie.

Meegaande foto wys darem dat die pad waterval toe die moeite werd was vir die uitsig. Die pad terug se beloning was ‘n warm koppie koffie.

Daar’s n muis…

Daar is n muis in die huis….


In my kombuis en heel tuis.


Ek stap in en word sommer grys!


Hoe durf hy sy gesig hier wys?


Hy het verskyn en weer verdwyn.


Ssshh, ek kruip weg in die tuin.


Ek gaan hom nooi vir kaas en wyn.


Hom onthaal met n laaste maal


En dan… die muisval uithaal!

Die lewe in lockdown limbo

49 Dae gelede het die lockdown begin. Vreemd en nuut, nie iets wat ons al ooit beleef het nie.

Aanvanklik afgekondig vir 21 dae en in my kinderlike positiwiteit het ek gedink en geglo dat alles op dag 22 terug gaan keer na normaal toe.

Nou, op die vooraand van die 50ste dag weet ons nie meer wat normaal is nie.

Die brood is gebak, die koekies ook, die bier gemaak en die teesakkie-twak gedroog. Maskers is gemaak uit alles van babadoeke tot g-strings.

Eers was die gevalle aangemeld in Natal, toe in Gauteng… Weskaap… So het die ding ons bekruip tot die Oos Kaap ook begin gevalle aanteken. Die lag en grappies het plek gemaak vir bekommernis, frustrasie en plek plek woede.

Almal hou almal dop. Wie dra nie n masker nie? Wie verkoop onwettig iets wat nog nie toelaatbaar is nie. Sigarette en drank is meer as goud werd. Petrol is goedkoper as in n lang tyd, maar mens mag nêrens heen ry nie! Rook en drink is meer onwettig as smokkel en dagga kweek.

Gisteraand praat die president met die landsburgers… N uur lank, sê bitter min. Belowe ons vlak 3, binnekort. Die getalle styg elke dag met so 600 +. Wat beteken vlak 3? Dit gaan dalk baie dieselfde wees as vlak 4. Meer onsekerheid. Sal ons mag oefen? En nie net in die vroeë oggend nie. Kan ons haarkapper toe gaan? Kerk toe gaan? Gaan die kinders hierdie jaar nog terug skool toe?

Gisteraand sê die president “hugging and kissing is something of the past.” Kyk, as hy sê ons mag nie meer kafoefel nie sit ek die tv af! Mense mag klaar nie rook, drink of kuier nie.

Ons mis eenvoudige goed, ons sitplekkie in die kerk, om kollekte in dis bordjie te gooi, om impulsief by vriende te stop vir koffie op pad terug van die dorp af, net omdat ons kan. Die onbeplande spontane braai op n Vrydagaand.

Vanmiddag loop ek ons zumba instrukteur in Spar raak en ek voel sommer na huil! Ek mis die klasse, die gesels en lag, dit gaan oor meer as net die oefening.

So paar jaar gelede was daar n dokumentêr wat ek gekyk het genaamd Life after people. Allerhande experts het bepaal hoe die aarde sal lyk 1 maand, 1 jaar ens na mense ophou bestaan het. Hoe die aarde “herstel ” sonder besoedeling. Hulle kan nou maar n nuwe een maak… Life after lockdown.

Een ding wat my nou grief is die “fake news”. En die conspiracies! Oh my word! Die ergste is dat die boodskappe aangestuur, recycle en weer versprei word.

Ek is gewoonlik positief van geaardheid en soek nie die doom en gloom nie, daar is genoeg suurgatte in die lewe. Ek moet erken dat die situasie nou al selfs in my gemoed n skadu gooi. Kom ons hoop dat vlak 3 spoedig sal kom en gaan.

Sanitizer vir die siel

Telemarketers, eintlik enigiemand wat iets moet bemark, het my ewige innige simpatie. Ek hou van koop en verkoop, ek hou net nie noodwendig van bemark nie. Ek wil goed verkoop, sonder om die koper te moet oortuig dat hy dit wat ek verkoop nodig het. Ek het Avroy Shlain probeer… dit het nie gewerk nie, ek het jaaaare gelede Smile speelgoed verkoop, dit was nie iets om oor te smile nie!

Ek sit hier in die kantoor, besig om te werk en pla niemand, toe die telefoon lui. Lang groet en navraag na my welstand, asof ons langverlore laerskoolvriende is. Meneer verkoop hand sanitizer. Duidelik is printer ink en toner op die oomblik uit die mode uit… Gebruik ons sanitizer? Ja, ons doen en ja, ons het ‘n plaaslike verskaffer. Meneer wil weet of my verskaffer se produk aan die vereistes voldoen. Ek is seker hy doen, ek het nie gevra nie. Hoeveel betaal ons tans by ons plaaslike verskaffer. Ek gee ‘n prys. Meneer maak keel skoon en verseker my hulle is R50 per 5 liter goedkoper as die plaaslike ou, hulle produk bevat BAIE alkohol (alkohol in enige vorm is op die oomblik ‘n hot seller) … EN hulle lewer af. Indien ek nou 25 liter koop, is ek uitgesort vir ‘n hele ruk. Ek verduidelik dat ons nie 25 liter nodig het nie. Ek NEE… NEE… NEE so baie dat dit vir my voel asof ek besig is om my kinders van voor af groot te maak. Die arme man wil weet hoekom ek so gefrustreerd klink, hy het dan niks gedoen nie. Ek verduidelik toe sommer bietjie vir hom hoe moeilik dit op die oomblik is om my werk te doen, tussen al die nuwe wette en reëls deur. Hy verstaan en het simpatie, en sy hand sanitizer sal my werk vergemaklik.

Na 20 minute sny die foon uit…. Genade, dankie tog! 10 Minute se vrede. My siel hou op vibreer. Ek gaan aan met my onderbreekte werk. Toe nou nie, die foon lui! Aangesien dit nie my selfoon met call ID is nie moet ek antwoord. Dis weer Meneer Saniteer. Hier gaan ek vandag nog my sanity verloor! Hy is nou al tevrede daarmee dat ek net ‘n 5 liter koop in plaas van die oorspronklike 25 liter. Oh goodness, gee tog net dat ek kan aangaan met my lewe. Pfft!! Daar is nou net een probleempie. Sien, die goed word verpak in 2 x 5 liter pakke per boks. So, ek sal ongelukkig nou 2 moet koop, maar dit is geen probleem nie, want sien, dit gaan my nou dubbel so lank hou. Per mutual agreement, na ‘n lang relaas en ‘n gesug en oogrol van my kant af, het ons besluit om die gesprek liewer te beeindig. Hy gaan wel vir my ‘n email stuur, net vir ingeval ek later van plan verander.

Iets wat ek sukkel om te verstaan is dat besighede adverteer as “spesialiste in die verskaf van goedgekeurde produkte, maskers en face shields” en “spesialiste in die steriliseer van u perseel”. Covid 19 het 3 maande gelede die land getref… hoe het hulle so vinnig “spesialiste” op hulle gebied geword?

Ek verlang sommer na die ink-en-toner ou. Ten minste gooi hy tou op sodra hy hoor ons fotostaatmasjien behoort aan Xerox.

Oud… Maar nie koud

My kollega het n hart van goud maar sy het ook n onhebbelike stout streep aan haar.

Nou die dag vertel sy vir my dat n oom wat sy ken sy lot by haar bekla het. Die oom is al n rukkie lank n wewenaar en op n stadium dat hy nou weer vroulike aandag begin geniet.

Hy is n besigheidseienaar, hy het n tavern. Wanneer n man vryerig raak raak hy meestal ook vrygewig. Die oom is dus redelik gewild onder dames n paar jaar sy junior.

Die oom vertel toe vir haar dat wanneer hy nou by die gedeelte van die romanse kom waar hy sy “protection” moet nader trek hy so effens konsentrasie verloor en dan verloor dinge stoom. Dit vat aan sy ego en sy reputasie. Hy is so effe moedeloos. Dis ook nou nie die tipe probleem waarmee n man te koop loop nie maar hy het raad nodig.

Sy gee toe vir hom raad, tong in die kies. Hy moet apteek toe gaan en vir die dames daar sê dat hy nou deesdae van tyd tot tyd per ongeluk sy pantoffels nat piepie en dat hy gehoor het daar is blou pilletjies wat help vir die soort probleem. Hy wil net weer ordentlik in die toiletpot kan mik. Hulle werk elke dag met die dinge, hulle sal hom mooi help, hy hoef nie skaam te wees nie.

Paar dae later loop sy hom weer raak… En die oom raas sommer op n afstand al. “Jy het my in die skande.”. Die oom het haar storie net so oorgedra aan die dame by die apteek. Die meisie het kop geskud, gesmile en gesê “met een van daai pille in oom se lyf gaan oom nie vir die pot kan mik nie, loshande bo oor die toiletpot piepie!” en toe het sy haar arm gebult om te demonstreer hoeveel krag daar agter sy “mik” sal wees.

Winterkos

Ek wil oom Cyril nederig vra, om ter wille van my heupe, die lockdown tot n einde te laat kom. Hierdie laaste 21 dae het my n groter verskeidenheid cravings gegee as my laaste swangerskap.

Die week is dit koud, bewolk en winterig. Sop, tuisgebakte brood, warm kos… Vanmiddag is dit melkkos. Nie fancy snysels, wat moeite is om te maak nie. Wanneer mens op lockdown is is die gaping tussen middagete en aandete 78 uur lank. Iewers in daardie tyd moet jy n ietsie nuttig, net om jou gees lig te hou.

So, toe die son se skynsel teen die kombuismuur die illusie van vieruur, teetyd, skep het ek gaan krap. Halwe liter melk in die mikrogilf warm gemaak… Meel en botter saamgevryf, liggies tot n mooi ryk krummel. Die botter en meelmengsel saam met die warm melk terug in die mikrogolf, kook en roer, kook en roer. Dan die kaneel en suiker meng.

Die effense soutigheid van die melkkos saam met die soet krakerige kaneelsuiker is die perfekte kombinasie. Bakkie melkkos in die kombuis, terwyl die son by die venster inskyn. Ek het selfs vir liefie ‘n bakkie gegee. Hy het dit nooit geeët nie, tot hy eendag ‘n lepeltjie geproe het en besluit het dit is nogal skaflik. Nou het my porsie halfveer.

Die geur vat my reguit terug na ouma Ellie se kombuis in Noupoort. Winterdae was daar n koolstoof met n groot blink kastrol met kookkos, kerrie afval of melkkos wat kook en n Pietfluit ketel met kookwater. Regte ouma-kos in n regte ouma-kombuis. Oupa Ben se kos trommeltjie het altyd daar gestaan. Sy toolboxie ook, die toolboxie het hy gebruik wanneer hy die tannie oorkant die pad se stukkende goed gaan regmaak het. Trommeltjie in die hand, fluit fluit oor die pad. Dit het vir my gevoel of daar altyd ten minste n dosyn mense in ouma se huis was. Grootmense, kinders, bure…. En kos, baie kos.

Ouma was konstant besig met bak of kook, en blokkiesraaisels invul by die kombuistafel… Koffiekoekies en vlakoekies is aangemaak, skottels vol, dan sulke lang stringe uitgemaal op ‘n meuletjie wat aan die tafel vasgeskroef was, gesny, gebak en opmekaar geplak met ‘n vulsel in die middel. Hertzoggies by die koekblikke vol gebak, appelkooskonfyt en klapper bo op.

Ek moes een Vrydagmiddag, ‘n paar jaar terug, Noupoort toe gaan. Ek het spesiaal ouma Ellie en Oupa Ben se huis gaan soek. Die stoep wat om die huis geloop het en wat aan een kant ‘n prieel gehad het, was afgebreek. Die huis verwaarloos en vensters hier en daar flenters. Van die tuin was daar geen sprake nie.

Nou is die oumas en oupas al salig en kan ‘n bord melkkos mens flink terugvat na jou kinderdae. As mens die tipe nostalgie so maklik beleef… beteken dit jy word oud?

Mint punch se skop

Kyk, om ‘n samaritaan te wees is nie maklik in vandag se dae nie… Sien ‘n man oorkant die pad sit-lê. Ek en my kollega huppel oor die pad om te gaan help. Die sweet tap die arme man af. Ek bel die ambulans, bring water en ‘n emmer-vir-ingeval want die man het hart krampe. Na so 5 minute korrel hy my skeef oog en verklaar “Ai, meddie, dan het ek nou nog gedrink ook…” Flip, ek dog hy kry ‘n hartaanval!!! Meantime is dit net die “Mint Punch” wat vir hom punch op die krop van sy maag!!! Later bieg hy verder “kyk, hy’s nou gewoond dagga vat, maar drank is sy tier!” Het maar die ambulans gekanselleer en my simpatie terug gepak in die boksie!