Fort Fordyce staptog

Desember 2018 besluit ‘n groepie van ons om vir Kersfees Fort Fordyce toe te gaan. Daar is ‘n huis met meer as genoeg spasie vir ons, ons kinders, ons vriende, ons verskeidenheid kerskos en ons braaivleis. Slaapplek vir 18 mense, ‘n kuierstoep om van te droom, kaggel in die sitkamer en ‘n regte egte plaaskombuis met ‘n kombuistafel groot genoeg vir ons almal.

Synde ons in die geselskap van gesoute 4 x 4 manne is loop die roete op die grondpaaie en agterpaaie, verby Kommandodrift dam, berge en dale deur. Ons weet nou nog nie of ons ‘n bietjie verdwaal het en of ons net die ekstra scenic route gevat het nie.

Die kuier is so suksesvol en ons so versot op die stil plek met die huis op so ‘n hoogte dat mens in drie rigtings net berge sien dat ons besluit om in die winter terug te gaan en ‘n wandelroete te doen… “Wandel” is nie die regte woord nie! Maar dit het ek nog nie geweet nie.

Winter breek aan en baie opgewonde word die pad weer ‘n keer aangedurf. Aangesien ons Desember maand daar kon kaggelvuur maak het ons ‘n lekker koel winter verwag. Ons pak alles wat warm is in, dik kouse en goeie stapskoene. Ek is nie so hoog op stapstewels nie en pak tekkies in. Gelukkig as ‘n nagedagte ook ‘n paar stapstewels wat ek nie regtig van plan is om te dra nie.

Voor die staptog is ek vertel dat dit so 15 km lank is maar nie so ‘n moeilike roete nie. Ek het so paar keer voor die tyd probeer om ‘n 5 km in die oggend te stap padlangs, net om nie heeltemal my naam met ‘n plank te slaan nie. Die slim mense sê dat indien mens 5 km stap/draf behoort jy dubbel die afstand te kan aflê tydens ‘n resies (gelukkig gaan ons mos net lekker stap). Ek wil darem nou nie blaas soos ‘n bees voor die mense wat dalk fikser as ek is nie.

Die oggend van die groot stap breek aan. Ons begin rustig, alles lekker in die veld, daar is ‘n historiese boom op die pad. Ons verdwyn tussen die bome en skielik is dit oerwoud. Die bome is so dig dat die sagte reën gehoor kan word maar nie deur die blare dring nie. Die ding is…. die pad loop al die pad afdraend, soos in erg afdraend dat my tone vasdruk teen die voorkant van die onwillige stapstewels wat ek toe gelukkig aangetrek het. Die jare oue blare en mos maak die pad glad, modderig en glad nie tekkie terrein nie.

So entweg in die staptog sê ek vir my man ek worry oor die afdraend. Nie omdat dit heelpad afdraend is nie, maar omdat dit beteken dat die terugtog dan heelpad opdraend gaan wees. Ek is bang ons gebruik al die afdraend op en ek weet wraggies nie hoe ek dan terug gaan kom by die huis nie. Die paadjie is nou ook, ons stap agter mekaar soos skoolkinders.

Na ‘n uur en ‘n half se stap kom ons by die waterval aan. Bitter mooi, koel en klam en die waterval is toe ook die einde van die pad. Enige hoop en drome van ‘n ander pad huis toe verdwyn soos mis voor die afwesige son! Terugpad is soos ons gekom het maar in reverse…. dit beteken, soos ek gevrees het, al die pad opdraend! Na ‘n hopeloos te kort ruskans draai ons terug. Die eerste 500 m is oraait. Ek stap derde van agter af. Agter my stap my man en agter hom dek Marius die agterhoede.

Ons stap en stap, daar is geen einde nie. Ek besef dat ‘n mens se lyf ‘n wil van sy eie het. My kop sê nog stap dan besluit my bene net hokaai, stop die lorrie, nie een treë verder nie. Dan gaan staan ek, hande op my kniee, Jaco loop in my vas en Marius loop in hom vas…. domino effek! Na ‘n paar minute voel ek asof ek weer kan stap. 10 Treë dan domino ons weer! Die mense voor my raak weg daar doer voor. Die paadjie is van so aard dat daar nie sitplek is nie, ek kan net hande viervoet staan en blaas en bulk, my asem en moed bymekaar skraap en weer stap tot my bene uitsny soos ‘n lister enjin wat overheat! Die tieners in die groep het vir my twee langerige stokke gebring wat hulle opgetel het. Ek kan dit soos kieries gebruik, dit help nie eintlik nie, maar dis seker die gedagte wat tel.

Ek wonder later waar die search en rescue helikopter gaan kan land en hoe die mense my op daardie dun stretcher gedra gaan kry tot terug by die helikopter…. en of die straps van die stretcher my gewig gaan kan dra, en of daar genoeg manne gaan wees om die stretcher te dra. Hulle moet my net nie laat val nie, want dan word die stretcher ‘n bodyboard en beland ek terug by die waterval!

Na ‘n ewigheid is ons terug waar die staptog begin het. Dierbare tieners het vooruit gedraf en ‘n voertuig gaan haal, en my die laaste 1.5 km pad gespaar. Ek was in my lewe nog nie so bly om ‘n voertuig te sien of om my skoene uit te trek nie.

Meegaande foto wys darem dat die pad waterval toe die moeite werd was vir die uitsig. Die pad terug se beloning was ‘n warm koppie koffie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *