Biltong seisoen en die regte skoene

Vanoggend moet Jaco vroeg uitgaan vir werk. Soos n getroue jack russel spring ek links in… want partykeer as hy vroeg uitgaan stop hy by Shell en by Shell is daar lekker koffie!

Hy laat ruite skoonmaak en ek gaan kry ons koffie. So sit ons en mense kyk deur die skoon voorruit. Daar staan n paar bakkies met tralies rond, een het n mooi vraggie klaar gekapte hout agterop – regte egte plaas bakkies. Hulle kom net in wit en so camo groen/bruin kleur. Blou en rooi bakkies is dorpbakkies, maak nie saak watter grootte tyres daarop is nie. Die 4×4 is vir die potholes.

Hier voor ons staan so n versameling jong manne, hulle lyk gecopy & paste – netjiese kort hare, kort baarde, mooi borskaste en sterk bo arms – niks maer hoenderkroppies nie, fris! Hulle dra n tan wat nie van die strand af kom nie. Deur die bank vaalbruin broeke en jagbaadjies. Is mos amper biltongseisoen in die Karoo…

So met die aanstap na hulle bakkies toe merk ons een ou wat effens anders lyk – saam met sy jagklere het hy plakkies aan. Ek gee hom een kyk en sê vir Jaco – daai is die manne se nefie uit die stad en al hoekom hy by is is omdat hulle ma’s gesê het almal moet mooi saam speel. Shame, as daar n plaashek moet oop- en toe dan is Nefie aan diens vandag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *